
Die gaste staan behaaglik in die wintersonnetjie op ’n wildplaas buite Groblersdal en bak toe die geklap van perdehoewe hulle laat opkyk. Toe bars ’n hings in volle vaart deur die bosse. Op sy rug sit ’n gemaskerde man met ’n swart mantel wat om sy skouers wapper. Die perd kom proesend in ’n stofwolk tot stilstand.
“Zorro is hier!” fluister die mense opgewonde.
Met ’n flink beweging swaai die gemaskerde bruidegom sy been oor die perd se rug. Hy lig sy hoed in die rigting van die gaste en klim dan met die houttrap op na die vertrek wat as kapel ingerig is. Hy gaan staan heel voor en trek sy masker en mantel reg. Ook die gaste stap nou na binne.
Minute later is daar ’n geruis op die trap. Zorro loer om, sy oë senuagtig agter die masker. Dis sy bruid, stralend en pragtig in ’n wynrooi-en-blou rok in die Spaanse styl en so reg uit die 18de eeu.
Sy haak trots by haar Zorro in, en die dominee sluit sy oë vir ’n gebed.
Die mense wat hul liefdesgeskiedenis ken, is nie verbaas dat die bruid en bruidegom ’n Zorro-tema vir hul troue gekies het en vandag hier as Don Diego de la Vega en sy Elana voor die kansel staan nie.
Toe Jacques van Rooyen (37) en Annelien du Toit (33) mekaar verlede November op ’n internet-geselsforum ontmoet het, was sy skuilnaam Zorro. En ook nie lank nie, toe verander sy hare van Cat Woman na Zorrolina.
Die liefde het geblom in die kuberruim, en kort ná Kersfees het die twee besluit dis tyd vir ’n ontmoeting.
“Dit was die eerste keer in my lewe dat ek agter ’n man aangery het,” vertel Annelien laggend van die dag toe sy die pad van Groblersdal af, waar sy as ’n rekenmeester by die departement van waterwese werk, na Pretoria vat.
En met dié eerste ontmoeting het hulle al geweet: Hul kuberliefde gaan nog in iets groots ontwikkel.
“Dit was ’n groot kans wat ek gevat het, maar dit was die regte kans,” sê Annelien nou.
Lees meer oor die ongewone troue in Huisgenoot van 30 Julie.