
Dis weer daardie tyd van die jaar en Gauteng gaan nie weet wat hom getref het nie! Jy sal moet opskud as jy nog nie ’n plan gemaak het om in die pret te deel nie . . .
Ons plaas vanjaar ’n splinternuwe glansaand op die Afrikaanse musiekkalender met ’n spoggerige geleentheid waar ons gewildste Afrikaanse kunstenaars met Tempo-pryse vereer word vir hul harde werk en sprankelende talent, en jy kan in die gehoor wees.
Daar’s natuurlik ook ’n bonus – die wenners van ons liedjieskryfkompetisie word ook die aand aangekondig en van ons voorste Afrikaanse sangers sal die 13 finaliste se komposisies sing.
Die gehoor sal getrakteer word op die heel eerste verhooguitvoering van die komposisies van ons 13 finaliste in Huisgenoot se liedjieskryfkompetisie. Groot name op die musiektoneel sal die nuwe werke sing: Eden, Juanita du Plessis, Chereé, Jennifer Jones en Brandon October, Andriëtte, Laurika Rauch, Broers, Nicholis Louw, Elizma Theron, Ray Dylan, Loyiso Bala, Georgia, Gian Groen en Anna Davel.
Teken dus 11 Augustus in jou dagboek aan en kom kuier saam met die groot geeste in die Afrikaanse musiekbedryf by hierdie glinstergeleentheid. Dit sal jou net R50 kos.
Die liedjies word ook op kykNET uitgesaai sodat jy ‘n idee kan kry hoe die fantastiese nuwe oes klink. Lees in die kassie onder hoe om die liedjies te hoor en ook hoe om te stem vir jou gunsteling- nuwe Liedjieskryfkompetisie-treffer.
Terselfdertyd kry jy ook nou die geleentheid om te sê wie vanjaar se wenners van die gesogte Huisgenoot-Tempo’s moet wees deur vir jou gunstelinge in enige van die 13 kategorieë te stem.
As beloning vir ons lesers wat help om vanjaar se Tempo-wenners te kies, gee ons dubbelkaartjies aan 10 gelukkige lesers vir die sprankelaand op Dinsdag 11 Augustus, en op een gelukkige paartjie wag ’n luukse reis op die Bloutrein na vanjaar se Huisgenoot-Skouspel.
Lees meer oor die Tempo-toekennings in Huisgenoot van 23 Julie.