Friday, 31 July 2009

Pasop, jou kind stres nes jy!


ʼn Mens se kinderjare was nog altyd vol uitdagings – die eerste dag in die groot skool, daardie pynlike dag dat jou eerste hoërskoolliefde jou afsê, die eksamenvrees . . .

En nou blyk dit vandag se kinders is meer gestres as ooit tevore – en ja, dis dikwels hul ouers se skuld. Ouers wat te veel stres beleef, beïnvloed die gesinsdinamika. En dit plaas soveel sielkundige druk op kinders van alle ouderdomme dat dit selfs hul immuunstelsel kan verswak en hulle vatbaarder kan maak vir siektes, het navorsers aan die Universiteit van Rochester in Brittanje bevind.

“Kinders kan inderdaad nes volwassenes stres ervaar,” sê Judy Jaye van die Voice and Stress Clinic in Johannesburg. “En dit kan vir hulle nog erger voel omdat hulle dit nie so goed kan hanteer nie. Selfs kinders wat pas begin skoolgaan het, het deesdae hoër stresvlakke. Ouers is meer gestres as ooit tevore en dit syfer na hul kinders deur. Kinders ervaar ook meer groepsdruk om die beste selfone en ontwerpersklere te hê. Afknouery is ook ’n groot bron van stres.”

Tieners wat aan stres ly, is 91 persent minder geneig om hul skoolwerk en studie te geniet as hul meer ongeërgde eweknieë, het die Suid-Afrikaanse sosiale-insigte-onderneming TNS Research Surveys in ’n onlangse studie bevind.

Die studie toon ook kinders wat stres ervaar, is meer geneig om vriende te hê wat rook en drink en selfs van dwelms of drank afhanklik word. Hulle kan ook aggressief, antisosiaal en angstig word, belangstelling in hul skoolwerk verloor en chroniese angs of depressie ontwikkel. As hulle nie van jongs af geleer word hoe om stresvolle situasies te hanteer nie, kan hulle as volwassenes geneig wees tot hoë bloeddruk, diabetes en verslawing.

Ouers wat leer om stressimptome te herken, is ook ’n tree nader daaraan om hul kinders te help om dit te bestuur. Situasies waar kinders voel hulle het geen beheer nie, veroorsaak stres, soos ’n egskeiding, kleuterskool, voorskool of gr. 1 toe gaan, om bedags van hul ouers geskei te wees, afknouery, vrees vir toetse en eksamens, ouers wat dikwels rusie maak, die verlies van persoonlike eiendom of ’n troeteldier, om te verhuis, hoë verwagtinge oor prestasie, blootstelling aan sensitiewe nuus op TV, en te veel naskoolse aktiwiteite.

Kry raad vir hierdie probleem in Huisgenoot van 6 Augustus.