
Dis High School Musical-manie met tande. So praat die mense oor die histerie oor die vampierfliek Twilight en sowaar ook die stapeltjie boeke wat die fliekbase laat besluit het dié bloedsuier moet silwerdoek toe.
En as jy enigsins droom van sinvolle gesprekke met jou tienerdogter in die volgende paar maande, lees gerus meer oor die boek-en-rolprentsensasie wat die jongmenswêreld op hol het.
Eers was daar die blitsverkoperboek Twilight, gevolg deur die verdere blitsverkopers New Moon, Eclipse en Breaking Dawn, geskryf deur die Amerikaanse skrywer Stephenie Meyer (35). Dié Mormoonse ma van drie het die boeke begin skryf nadat sy daaroor gedroom het, en vandag het meer as 50 miljoen eksemplare al huis gekry.
In Suid-Afrika was ál vier boeke in 2008 onder Exclusive Books se topverkopers en vanjaar is dit weer onder die toptien. Sommige mense sê selfs terwyl J.K. Rowling kinders weer aan die lees gekry het met haar Harry Potter-boeke, het Stephenie dit koel gemaak om te lees.
Die verhale gaan oor die tienermeisie Bella Swan wat na die dorpie Forks trek en daar die geheimsinnige oeroue vampier Edward Cullen ontmoet. Dis fantasieromanse op sy beste, en toe die verhaal die silwerdoek verlede jaar tref, was ma’s en dogters wêreldwyd dolverlief op Edward en almal wou net sy geliefde Bella wees (Pasop, die liefde byt!, 1 Januarie). By die Suid-Afrikaanse loket alleen het Twilight R8,4 miljoen verdien, en dit het wêreldwyd ’n stewige $382 miljoen (net meer as R3 biljoen) laat inrol. Maar die opvolgfliek, New Moon, wat op 27 November hier uitgereik word, gaan glo nog groter en beter wees. Hollywood-base meen nou die Twilight-reeks is die opwindendste flieks sedert die Harry Potter-rolprente.
Die sexy Britse akteur Robert Pattinson (23), wat die tiener-vampier speel, was tevore nie juis bekend nie. Hy was ’n model en het die rol van Cedric Diggory in twee Harry Potter-flieks gespeel, maar sonder veel ophef. Maar daardie dae is nou verby. Sy medester Kristen Stewart (19) was ’n suksesvolle kinderakteur, en nou is sy éérs beroemd.
Lees meer oor hierdie gewilde fliek in Huisgenoot van 6 Augustus.