
Die geur van huiskos – gebraaide hoender en groente – hang in die lug in Vaughn van Jaarsveld se kalerige woonstel in Bedfordview buite Johannesburg. Hy’t maar onlangs saam met sy verloofde hier ingetrek, en sedert hy laat verlede jaar uit Engeland teruggekeer het, was hy so bedrywig dat daar nog nie tyd was vir meubels koop nie.
Met sy hare nog nat van die stort, gesels hy oor die fiasko wat sy loopbaan by die Proteas kon verongeluk het nog voor dit hoegenaamd begin het.
‘‘Ál wat ek wou doen, was krieket speel,’’ vertel die 24-jarige kolwer.
“Om teen die beste spelers te speel, onder verskillende omstandighede, op verskillende velde, sou my spel met groot spronge vorentoe geneem het. Om dit te doen, moes ek Engeland toe gaan.’’
En dit was toe net daar waar dinge lelik skeefgeloop het. In 2007 het Warwickshire hom ’n kontrak aangebied. Hy’t ja gesê, salig onbewus dat dit hom as keuse vir die Protea-span sou uitknikker in ’n stadium dat mense van dié talentvolle linkerhandkolwer begin praat het as ’n moontlike toekomstige ster vir die Proteas.
‘‘Ek het swak raad by my agent gekry,’’ sê hy kalm. Hy sit met sy hande tussen sy knieë vasgeklem en staar na sy wit kneukels – die enigste teken dat hy dalk nog kwaad is.
‘‘My agent het gesê dit sou nie my beskikbaarheid vir Suid-Afrika beïnvloed nie,’’ voeg hy by, en vervolg dan vurig: ‘‘Hy was natuurlik verkeerd. Toe begin ek al hierdie goed lees oor hoe ek Suid-Afrikaanse krieket die rug toegekeer het.”
Inderdaad. ’n Man soos die nasionale keurder Haroon Lorgat, byvoorbeeld, het gal gebraak. ‘‘As ’n speler besluit om nie vir sy land te speel nie, is dit sy keuse. Ons sal niemand smeek om vir Suid-Afrika te speel nie,’’ het hy gesê.
“Dit was nooit die geval nie; dit het altyd daaroor gegaan dat ek my spel wou verbeter,’’ sê Vaughn.
Maar nou het hy die kans om die ervaring wat hy onder moeilike omstandighede opgedoen het, in te span om Suid-Afrika die komende Internasionale Krieketraad se Kampioenetrofee te help wen.
Lees meer oor Vaughn en sy terugkeer in Huisgenoot van 23 Julie.