Friday, 10 July 2009

Die internet tel spoed op


Dis omtrent ’n aardskuddende ontwikkeling op ons internet-landskap. Die grootste omwenteling in internettoegang hier by ons sedert die koms van kommersiële internet in 1994. Die vonk vir die breëband-revolusie wat binnekort oor Afrika gaan swiep. So het die woorde die afgelope ruk behoorlik gerol oor nuwe ontwikkelinge aan die internetfront.

En ja, eeue nadat ’n paar skepe om Afrika na Indië gevaar het, is daar weer groot bedrywighede van blykbaar ewe groot betekenis langs ons vasteland se kus af. Dié keer is die skepe spesifiek vaartuie wat kabels lê, as’t ware besig om ’n inligtingsroete oop te vaar.

En ja, dié gewoel beloof wel goeie dinge. Ná jare waarin monopolieë, gunste vir vriende, binnegevegte, swak regulasies en ander politiekery die plaaslike kommunikasiebedryf lelik gekortwiek het, begin dit lyk asof Suid-Afrika tog nou uiteindelik behoorlike bandwydte gaan kry. En dit beteken bekostigbare verbindings met die buitewêreld en moderne telekommunikasie-infrastruktuur, ook van ander mense buiten Telkom – alles dinge wat ons internet-ervaring in ’n vreugde kan omskep.

Ja, hier kom nou breëband vir Afrika.

Maar gaan ek en jy ook ’n verskil sien, en wanneer? Die eerste vonk wat ál dié breë-band-uitsprake van die afgelope maande aangevuur het, is Seacom, ’n ondersese optiesevesel-kabel, wat, soos die maatskappy self sê, “die wêreld binne maklike bereik sal bring”. Die kabel behoort teen einde vandeesmaand klaar gelê te wees nadat seerowers die skippie vir die beplande datum teen einde Junie laat sink het. Dit sal internasionale bandwydte met hoë drakrag voorsien langs die Afrika-ooskus deur Suid-Afrika, Mosambiek, Madagaskar, Tanzanië, Kenia, Djiboeti en verder aan wêreldwyd, via Frankryk en Indië.

Seacom sê sy kabel met sy dravermoë van 1,29 terabisse per sekonde of Tbps (tera = miljoen miljoen) sal Suid-Afrika en Oos-Afrika behoorlik met die wêreld verbind. Die bekende kommunikasietegnologie-ontleder Arthur Goldstuck verduidelik: Net 80 gigabisse per sekonde of Gbps (giga = duisend miljoen) was teen einde 2008 vir die hele Afrika suid van die Sahara beskikbaar deur die bestaande SAT3- ondersese optiesevesel-kabel van Telkom. Suid-Afrika was dus grootliks vir sy internasionale bandwydte van dié kabel en dus van Telkom afhanklik.

Kom op die hoogte van hierdie opwindende ontwikkeling in Huisgenoot van 16 Julie.