
Bloot die menigte Please call me’s wat sy op haar foon kry, sê vir haar ons selfoonoproepe is te duur. Trouens onbekostigbaar vir baie armes.
“Maar dit het ook ’n groot invloed op sakekoste vir ons almal,” sê Patricia de Lille, gesoute politikus en deesdae lid van die parlementêre kommunikasie-portefeuljekomitee. En sy wil nou werk maak van hoë selfoonkoste. Sy’t nou trouens by die Mededingingskommissie daaroor gaan kla. Sy glo dis weer daardie ou spook: te min kompetisie.
Daar’s lankal ’n koor van klagtes oor die prys van selfoonoproepe. En nou het die vuurvreter Patricia kaalvuis ingeklim. Sy vra dat die Mededingingskommissie kyk of van die groot netwerkoperateurs nie dalk teen nuwe diensverskaffers saamgespan het om so koste vir verbruikers kunsmatig hoog te hou nie.
En sy wys veral die vinger na interkonneksietariewe – die tarief wat een selfoonmaatskappy ’n ander vra om ’n oproep op sy netwerk te verbind. Dit is die tarief wat Vodacom byvoorbeeld van Cell C sal hef om ’n oproep van ’n Cell C-intekenaar na ’n Vodocam-kliënt deur te skakel.
Patricia, onder andere, meen ons uitermate hoë interkonneksietariewe is ’n rede vir duur selfoonoproepe. Aan die begin, met net Vodacom en MTN op ons sellulêre landskap, was interkonneksietariewe net meer as 20c per minuut. “Maar kort voor Cell C die mark betree het, het dié twee dit met meer as 500 persent tot R1,25 per minuut verhoog,” sê Patricia.
En dis die verbruiker wat al die jare vir dié aardige heffinkie opdok. Interkonneksiefooie word nie hier gereguleer nie, hoewel baie lande oorsee reeds op dié terrein moes ingryp om selfoonkoste te verlaag. “Daar was byvoorbeeld ’n groot gemor in Brittanje oor baie duurder selfoonoproepe as in Europa. Brittanje se interkonneksietariewe was baie hoog. Die regering het toe ’n perk gestel op wat maatskappye hiervoor mag vra en dié koste word nou beduidend verlaag.”
Die Britse mededingingskommissie het vroeër vanjaar bepaal groot selfoon-netwerke daar moet hul konneksietariewe verlaag tot 4p (51c) teen 2010/11, luidens ’n Research ICT Africa-studie.
Lees volledige artikel in Huisgenoot van 6 Augustus.