
Die aantreklike skaapboer van Loxton trap ongeduldig rond voor die groot sleepwa wat aan die voet van die rantjies staan. Gewoonlik wanneer hy so voor ’n sleepwa staan, is dit in kakieklere en vellies om die vetgemaakte skapies uit sy geliefde ‘‘Keroo’’ na die vendusiekrale te stuur. Maar nie vandag nie.
Vandag staan Tickey van Wyk gepak en gedas op ’n plaas in die Laeveld. Want dis net hier, op die sleepwa wat as kansel dien, wat hy gaan vrou vat.
Die 35-jarige Karoo-boer het vroue landwyd se harte sag gemaak met sy boeresjarme in die TV-program Boer Soek ’n Vrou, maar vir hom was daar van die begin af net een: Selme-Louise du Plessis (28), die skooljuffrou van Nelspruit.
En vandag maak hy en sy ‘‘Selmetjie’’ dit amptelik. Hier op haar ouers se plaas buite Nelspruit waar daar met malvas, suurlemoene en neute geboer word, gaan Tickey aan sy Selme-Louise trou beloof.
Op die hooibale wat as kerkbanke dien, sit van die ander Boer-finaliste – Hennie van Deventer, Joachim Prinsloo en Jurie van Zyl – onder die 230 gaste wat vandag in die vreugde kom deel. Dis bykans ’n jaar gelede dat die eerste opnames vir die reeks gemaak is, en selfs Elma Postma, die aanbieder, het vanoggend van Johannesburg af deurgery vir die groot okkasie.
Voor die kansel kan Tickey maar net nie ophou glimlag nie, en dis eers toe die bruidegom ’n paar sweetdruppels van sy bolip vee dat jy sien vir dié boerehart raak die gewag nou ’n bietjie lank.
Maar dis ’n dag van verrassings vir die bruidegom, en toe Selme-Louise uiteindelik agter op ’n oeswa agter hom verskyn en nie in die bospaadjie waarop sy oë rus nie, swaai Tickey verras om, en staan dan ver-steen en kyk en kyk weer . . .
Dis eers toe haar stem oor ’n luidspreker ’n liefdeslied van Louis Brittz lees dat hy sy oë van haar losskeur en terugdraai na die gaste.
Meer oor die eerste deelnemers aan Boer Soek ’n Vrou wat trou en mooi troufoto’s in Huisgenoot van 9 Julie.