Friday, 10 July 2009

Desperate pa soek sy kinders


Vir die eerste keer in twee jaar sal Steve Swanepoel weer sy kinders sien, maar jy soek verniet ’n glimlag op sy gesig. Want dalk, net dalk, is dit te goed om waar te wees . . . Hy is ’n gebroke man. Hy kan nie onthou wanneer laas hy gelag het nie, vertel hy terwyl hy die soveelste sigaret aansteek en met bewende hande sy koffie roer.

‘‘Al wat ek wil hê, is om my kinders in my arms te kan vashou, maar daar was al soveel terugslae dat ek nie meer durf hoop nie,’’ sê hy, en trane blink in sy oë. Uit ervaring weet hy die vrou wat sy kinders meer as twee jaar gelede na Frankryk ontvoer het en Suid-Afrikaanse wetgewing sodoende blatant oortree het, is tot enigiets in staat. En sy het in Frankryk ’n hooggeregshofbevel om die kinders, Stephen (6) en Isabelle (7), terug te bring na Suid-Afrika geïgnoreer, asook uitsprake in Februarie in die appèl- en konstitusionele howe dat hulle sonder versuim moet terugkom.

Die situasie is nou al so ingewikkeld dat daar op die hoogste vlak tussen die Suid-Afrikaanse en Franse owerhede onderhandel word. Hoewel hy pas amptelik die groen lig gekry het om die kinders te gaan haal, is die versekering van die Franse regering dat hulle hom sal help om die kinders te vind, skrale troos. Tot dusver kon niemand nog vir hom sê waar sy eks en die kinders hulle tans bevind nie. En hy het geen waarborg dat die Franse polisie hom sal help om die kinders op te spoor en landuit te kry nie, sê hy moedeloos.

Steve wys trots foto’s wat van die kleingoed geneem is voor hulle in Maart 2007 saam met hul ma oorsee is. Sy grootste vrees is dat die hegte band wat hy eens met hulle gehad het, vir ewig daarmee heen is. Hulle is immers nog so jonk en twee jaar is ’n lang tyd . . . ‘‘Die kinders kan dalk nie eens meer Engels praat nie.”

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 16 Julie.