Friday, 31 July 2009

Opstand onder die massas: Dis die rede


Die reuk van brandende motorbande hang in die lug terwyl massas betogers winkels plunder en amok maak. Die polisie het hul hande vol om die oproeriges in bedwang te bring. Klippe vlieg in een rigting en rubberkoeëls en traanrook in die teenoorgestelde rigting.

Onrus vlam al die afgelope drie maande gereeld op in die land se townships waar inwoners se ergernis oor swak dienslewering en armoede nou blykbaar verby kookpunt is. Munisipale geboue word aan die brand gesteek, raadslede se huise loop deur en burgemeesters se koppe word geëis.

Veral in die afgelope paar weke het die frustrasie van inwoners oor swak munisipale dienste in Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap breekpunt bereik. Vreemdelingehaat het ook weer opgevlam en buitelanders moes vlug na polisiekantore toe hul winkels afgebrand is.

Sedert die jongste vlaag onrus begin het, is honderde mense weens openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem uit vrees dat verlede jaar se golf van haat weer oor die land kan spoel.

In Durban het Suid-Afrika pas ’n verskynsel beleef wat nou as die land se eerste hongergedrewe onrus beskryf word: oproeriges, lede van die South African Unemployed People’s Movement (SAUPM), wat kos van winkelrakke gegryp en verorber het en wou weet waar kry politici geld vir swierige motors as daar ’n resessie is. En hoekom word biljoene rande bestee aan stadions vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 terwyl mense honger ly?

Derduisendes wat daagliks werk om die basiese dienste wat reeds so gebrekkig is te lewer, het boonop dae gelede steeds gestaak om hoër lone.

Dis ’n tikkende tydbom, en ons het ’n paar vrae gaan vra.

Dienste is lankal swak – waarom dan nou die onrus?

Nadat niks gekom het van hul versoekskrifte, briewe en oproepe nie, het inwoners hulle nou tot protes gewend. Munisipaliteite luister nie altyd na inwoners se klagtes nie, het ’n taakspan bevind wat in opdrag van die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake ondersoek ingestel het na die gehalte van dienslewering.

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 6 Augustus.