
Hy sê dit nie self nie, maar sy hele omgewing verklap dit: Hy is ’n perfeksionis, met elke wingerdry genoem, genommer en op rekenaar gedokumenteer sodat elke werker op sy plaas se arbeid fyn gemonitor word. En in sy eksieperfeksie huis, omring deur die asemrowende Franschhoek-berge wat met die beweging van die son die mooiste skaduwees oor sy wingerdlande gooi, is hy eindelik reg vir sy droomvrou.
Dis nie om dowe neute dat Pieter Hanekom op 44 nog nie vrou gevat het nie. Hierdie finalis in die nuwe seisoen van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou is sy lewe lank al geduldig aan’t wag op sy ideale lewensmaat, want naasbeste is net nie vir hom ’n opsie nie. Maar die tyd is ryp. Met ’n glasie rooiwyn in sy hand verklaar hierdie Bolandse wynboer: “Ek is nou so reg soos ’n roer om te trou en met ’n gesin te begin.’’
Die vier slaapkamers in sy moderne huis is almal spierwit, van die gordyne tot die opgepofte beddegoed. Daar is ook twee sitkamers en ’n goed toegeruste kombuis – ’n eksieperfeksie huis wat net wag op ’n vrou om ’n bietjie deurmekaar te kom krap en haar stempel af te druk.
Altesaam 91 aspirant-boervroue het aan hom geskryf en nadat die spannetjie tot 10 uitgedun is, moet hy nou vyf van hulle kies om beter te leer ken. Maar sal enige van hulle ooit aan sy streng vereistes kan voldoen?
In sy lewe tot dusver het hy drie verhoudings gehad wat hom amper voor die kansel gekry het, vertel Pieter. Een was drie jaar lank, en in sy jonger dae. Meer onlangs was daar die ma van een kind wat twee jaar lank deel van sy lewe was.
“Die politiek met kinders waar daar tougetrek word en jy as die nuwe man ’n sinvolle rol wil speel, is kompleks en plaas ontsettend baie druk op ’n verhouding,’’ sê hy pront.
Lees meer oor die lewe van hierdie boer in Huisgenoot van 6 Augustus.