Friday, 17 July 2009

Die groot Dan-dag is op pad!


Die langverwagte opvolgboek van sy blitsverkoper The Da Vinci Code is nog nie eens op die winkelrakke nie en daar is reeds vyf miljoen eksemplare bestel.

In dié tye van sente omdraai, hoop en bid ander skrywers nou hul boeke tref die winkels voor Dan Brown (45) se nuutste riller, The Lost Symbol, op 15 September op die wêreldmark ontplof.

En daar is duidelik rede tot paniek – van sy omstrede roman The Da Vinci Code is immers meer as 80 miljoen eksemplare verkoop en dit was 87 weke boaan die topverkoperlys van The New York Times.

Die afwagting was dus groot toe The Lost Symbol by Huisgenoot se kantore opdaag. Maar toe ons die boek oopslaan . . . is al die blaaie leeg!

Dit blyk dat Dan almal tot op die laaste tippie in spanning laat wag vir sy nuwe storie. Ál wat ons tot dusver weet, is dat dit hoofsaaklik in Washington gaan afspeel, dat die intrige glo oor 12 uur ontvou en dat die fiktiewe Harvard-simboolkundige prof. Robert Langdon vir ’n derde keer sy verskyning gaan maak. Dis dit.

Terwyl geheime kodes en legkaarte daagliks op Faceboek en Twitter sal verskyn as ’n lusmakertjie in die aanloop tot Dan-dag, is dit nie eens seker presies hoe die buiteblad van die nuwe boek gaan lyk nie.

Twee omslae is al uitgereik en ontsyferaars krap behoorlik kop. Op die een pryk die Kongresgebou in Washington DC onder ’n rooi wasseël teen ’n agtergrond van simbole. Op die ander een is die Kongresgebou, ’n sleutel, ’n hoekliniaal en ’n passer.

Sommige mense sê nou daar is ooreenkomste met embleme van die Skotse Vrymesselaars wat hul hoofkantoor in Washington gehad het, en dat die boek dus weer oor die Vrymesselaars gaan, met die verlore simbool van die titel ’n verwysing na ’n geheime beeldskrif in ’n antieke boek, The Key of Solomon.

Lees meer oor Dan en sy nuwe boek in Huisgenoot van 23 Julie.