
Die diens is verby en die kerk in Londen besig om leeg te loop, maar in die paadjie beur een kêrel vasbeslote in die teenoorgestelde rigting, sy Kroatiese meisie aan sy hand.
Johan Zandberg (27) wil by Angus Buchan uitkom om vir hom dankie te sê vir die wonderlike manne-kamp wat hy die naweek aangebied het. En hy wil hê oom Angus moet vir hom en Kristina Cukrov bid.
Die prediker van KwaZulu-Natal is self op pad om die kerk te verlaat, maar Johan pluk hom aan die arm. En toe Angus vir hom kyk, bars hy op die plek in trane uit.
‘‘Ons wil trou,’’ hoor hy homself sê.
‘‘Wil julle dit sommer nou doen?’’ vra Angus.
Net daar sak Johan op sy knieë voor Kristina (31) neer en vra haar om sy vrou te word. En nou is ook sy in trane. Dit maak nie saak dat hy in jeans en ’n T-hemp en sy in ’n geblomde rokkie daar staan nie, en ook nie dat hulle nie ringe het om hul liefde mee te verseël nie. Hul saamblyery pla hom al geruime tyd, en hier is die kans om dit reg te stel.
Van die gemeentelede sien wat gebeur en gee op die plek twee ringe aan. Een skenker is ’n fris boerseun. Dié wildvreemdeling gee vir Johan ’n swart ring waarop kruise binne en buite gegraveer is en sê vir die jong bruidegom elke keer as hy voel hy kan nie meer nie, moet hy sy hand oopmaak en na die kruis kyk.
Kristina kry ’n ring van witgoud met vier diamantjies van ’n vrou wat vertel dit was haar beloftering van haar kêrel wat sy ses jaar lank gedra het. Sy is nou met hom getroud en sy sê vir Kristina sy hoop dit bring vir haar ook geluk. Intussen stroom mense terug die kerk in, en op dié aand trou twaalf paartjies wat ’n uur of wat tevore nog nie die vaagste benul gehad het dat dit hul groot dag sou wees nie . . .
Lees in Huisgenoot van 16 Julie hoe hierdie paartjies trou belowe het aan mekaar.