Friday, 03 July 2009

Tot siens, Michael Jackson


Die foto van die man hier op die verhoog, skynbaar ewig jonk, skynbaar ewig energiek soos altyd, verraai niks van die tragedie wat skaars 48 uur later die wêreld sou stomslaan nie.

Hier waar hulle hom vir die laaste keer afgeneem het by sy repetisie vir wat sy laaste konsertreeks sou gewees het, is hy steeds die Koning van Pop. Uiteindelik weer sy ou self, dankie tog, so lyk dit. Hoe bedrieglik kan die kamera nie wees nie . . .

In sy deursigtige blink baadjie lyk Michael byna soos ’n hemelse wese. En die groot, rooi neonletters, die naam van die konserte waar hy nou nooit sal sing nie, flits soos ’n voorbode agter hom: ‘‘This is it.’’

‘‘By ons laaste repetisie was daar geen aanduiding dat hy binne slegs 15 uur dood sou wees nie,’’ vertel Ed Alonzo, die towerkuns-konsultant vir die konserte. ‘‘Daar was net een lyfwag by hom. Hy kon byhou by desjare se Dangerous-danspassies. En hy kon nog soos in die Thriller-video beweeg en sing.’’

’n Swart band om sy regterarm op een van die repetisie-foto’s stuur kriewelinge teen my ruggraat af. Dit lyk nes ’n rouband . . .

Maar op die middag van 25 Junie vang die nuuskameras ’n heel ander prentjie vas: Michael Jackson wat kort tevore nog die verhoog aan die brand gedans het, word nou met ’n suurstofmasker oor sy gesig, maar vermoedelik reeds dood, by sy gehuurde woonstel in Los Angeles uitgestoot op pad hospitaal toe.

Dis die TV-beelde waarmee ek en die res van die wêreld Vrydag-oggend wakker word. Dis die einde van ’n era, en ek gaan krap dadelik in laaie rond op soek na die boeppens-dagboek van my jaar as uitruil-student in Duitsland in 1992. Daar, ’n paar dae voor my 19de verjaardag, het ek my heel eerste musiekkonsert van ’n internasionale ster bygewoon. Koerantuitknipsels en selfs die konsertkaartjie vir sy Dangerous-wêreldtoer is steeds in die dagboek geplak.

Ek word teruggevoer na daardie Saterdag van 8 Augustus. Dit was snikheet, die warmste dag in die Europese geskiedenis.

Lees meer oor die Koning van Pop in ons prag-aandenkingsblaaie met foto’s en inligting oor die lewe en dood van Michael Jackson in Huisgenoot van 9 Julie.