Friday, 10 July 2009

Eers Borat, nou kom Brüno!


Hy speel die soort karakters wat jy nie na ’n sedige koek-en-tee-paartie, trouens na enige paartie wil nooi nie. Ongepoets? Bar? Aanstootlik? Eintlik al drie. En nou’s die koning van poetsbakkers, Sacha Baron Cohen, terug met nog meer krapperigheid in sy . . . wel, kleefbroekies.

Die ster agter karakters soos Ali G en Borat is deesdae die gay Oostenrykse modejoernalis Brüno met ’n netjiese, reguit, ligte kapsel – en om te sê die man saai amok oral waar hy gaan, is om dit sagkens te stel.

Fliekgangers wat kwalik kan wag om dié nuwe Sacha-skepsel te sien, wees gewaarsku: As Borat Sagdiyev van Kazakstan jou hare laat rys het, gordel jou deeglik vas vir die omstrede modeman. Dié fliek is baie meer vulgêr en as jy nie wil sien wat jy nie moet sien nie, bly by die huis saam met die kinders.

As aanbieder van die Oostenrykse TV-program Funkyzeit mit Brüno voer die skraal kalant onderhoude met niksvermoedende gaste oor onderwerpe soos vermaak, mode, glanssterre en homoseksualiteit, en dis oor laasgenoemde dat hy meer vyande as vriende maak. Dié flambojante karakter het eintlik al voorheen gesig gewys in Sacha se flieks, maar nou het die vervaardigers besluit om ’n fliek net oor hom te maak.

Sacha het ’n lekker naam vir die nuwe fliek gehad – Brüno: Delicious Journeys through America for the Purpose of Making Heterosexual Males Visibly Uncomfortable in the Presence of a Gay Foreigner in a Mesh T-Shirt – maar die rolprentbase wou nie hieraan byt nie. Wonder hoekom nie?

Maar die rolprent het skaars begin draai toe dagvaar ’n vrou reeds die komediant-akteur vir $25 000 (sowat R200 000) nadat sy in een van sy poetse beseer is. Sy beweer hy het haar bingo-aandjie kom bederf met sy “seksueel uitlokkende klere’’ en sy “vulgêre, beledigende maniere’’. In ’n worsteling het sy beserings opgedoen wat haar “huweliksake’’ beduiwel het.

Isla Fisher, Sacha se verloofde en die ma van sy dogter, Olive, weet al haar liefie se manewales val nie in almal se smaak nie.

Lees meer oor hierdie omstrede komediant in Huisgenoot van 16 Julie.