Friday, 17 July 2009

Ons boere soek weer vrou


Die groot oomblik is hier! Dankie tog, uiteindelik . . .

En daar is nege splinternuwe eensame boerklonge en een boerenooi wat nege splinternuwe hoopvolle meisies en een man se hart dalk binnekort gaan verbly in die tweede seisoen van kykNET se supergewilde Boer Soek ’n Vrou-reeks, die werklikheidsreeks waarin ons land se boere liefde vind – en soms weer verloor.

Natuurlik wag daar hope verrassings, belowe die aanbieder, Elma Postma. “Dis lekker anders as die eerste reeks, en die boere gaan kykers laat naels kou.’’

Beter as verlede jaar s’n?

Hennie van Hoedspruit (43) het mos ’n ring aan sy Louanda Erasmus se vinger gesteek, maar toe gee sy dit terug. Gelukkig het Kupido se pyltjie dié wildplaas-bestuurder weer ’n keer getref en nou spog Yolindi du Preez met ’n pragring aan haar vinger.

Sy raad aan die nuwe manne (en vrou)?

“Dink goed oor jou besluite en luister na jou instinkte. Kyk wie is die vrou wat vroegoggend kaalvoet deur nat beesmis (of buffelmis) vir jou sal stap en kies háár.’’

Tickey van Loxton (35) se TV-ontmoeting het voor die kansel geëindig toe hy onlangs met die onnie Selme-Louise du Plessis afgehaak het. Sy Selmetjie het intussen die klaskamer vir Wolwas-boerdery in die Noord-Kaap verruil.

“Moenie alles lees en glo wat die publiek van jou sê nie,’’ waarsku hy.

Sy hartsake het nou wel nie klopdisselboom verloop nie, maar ons wonder tog oor Joachim van Kiepersol (28) – die piesangboer het dan saam met niemand anders nie as die mooie Elma aan sy sy by Tickey se troue opgedaag. Maar albei is tjoepstil oor of daar iets aan’t broei is. Sy raad? “Volg jou hart.’’

En daar slaan Jurie van De Aar (29) toe sommer ’n kameerol op TV los toe hy en Sharon Berrington in Binnelanders verskyn – nogal as hulself.

“Ek is nie regtig ’n TV-ster nie, maar my vriende sê jy weet jy is beroemd as jy in Huisgenoot se blokkiesraaisel was,’’ lag die erg private Karoo-boer.

Vir die nuwe boere sê hy: “Gedra jouself net.’’

Lees meer oor dié nuwe kompetisie en die deelnemers in Huisgenoot van 23 Julie.