
Die ongemaklike, benoude pyn in sy bors keer kort-kort terug. Deur die loop van die aand sê die voormalige Bok-kaptein ’n paar keer vir sy vrou en gaste hy voel nie lekker nie, maar hulle is nie juis bekom-merd nie. Op 38 jaar is hy immers topfiks en blakend gesond, en hy was enkele ure tevore nog op sy pos langs die rugbyveld. Hy’s seker net moeg, dink hulle toe hulle vir aandete aansit . . .
Dit was immers ’n goeie dag vir Joost van der Westhuizen: Hy het vir die eerste keer in maande weer as kommentator by ’n rugbywedstryd opgetree – nou wel nie vir SuperSport nie, maar vir ’n Walliese tele-visiekanaal. Hy is steeds op betaalde verlof by SuperSport ná die herrie oor die sogenaamde Joost-seksvideo waarin hy, volgens die ontkleedanseres Marilize van Emmenis, die dwelm Cat gesnuif het. Maar sy vrou, die sangeres Amor Vittone, het kort tevore in ’n tydskrifonderhoud gesê sy’s steeds oortuig dis nie haar man in die video nie, en die huwelik staan dus oënskynlik steeds sterk.
Kylie en Jordan, die kleingoed, het reeds gaan inkruip toe die egpaar hul gaste omstreeks elfuur die aand in die oprit voor hul huis in die luukse Dainfern-kompleks in Sandton gaan afsien. Dis snerpend koud, en die gaste maak aanstaltes motor toe. Maar skielik gebeur iets vreesliks, iets heeltemal onverwags: Joost lig sy arms op, klem sy bors vas en sak in mekaar. En bly roerloos en skynbaar bewusteloos lê.
Amor begin onmiddellik histeries huil, en die gaste storm terug. Die een buk oor Joost, besef hy haal nie asem nie, en hy begin dadelik mond-tot-mond-asemhaling toepas.
Die ander bel die nooddienste en verduidelik daar’s ’n krisis, die Bok-held is in lewensgevaar. Paramedici jaag na die glanspaar se huis, en Joost word met ’n ambulans na die Netcare Sunninghill-hospitaal geneem waar hy omstreeks middernag inderhaas in die waakeenheid opgeneem word. Hy’s steeds bewusteloos toe die hospitaal se dokters en verpleegsters op hom toesak. ’n Getraumatiseerde Amor bel Joost se familie, en sy ouers en broer, Pieter, jaag tweeuur die oggend na die hospitaal.
Lees meer oor die dramatiese gebeure in Huisgenoot van 9 Julie.