Friday, 17 July 2009

Pille meng kan jou dood kos


Lank voor sy dood al was die Koning van Pop “ ’n lewende lyk”, vertel mense wat glo gesien het hoe Michael Jackson die kragtige kalmeermiddel Diprivan misbruik – ’n narkotiese middel wat heel moontlik tot sy hartversaking kon gelei het.

“Hy het gereeld gesmeek dat hy dae lank ‘verdoof’ moet word,” sê Kathryn Buschelle, ’n voormalige verpleegster van Michael se plastiese chirurg.

Hy het glo verslaaf geraak aan die middel nadat dit voorgeskryf is vir pynverligting weens al die afskilferingsbehandelings om sy vel ligter te maak.

Diprivan word algemeen as inspuiting toegedien voor ’n groot operasie en volgens kenners moet dit net deur ’n opgeleide narkotiseur toegedien word.

“Michael was nog altyd gesond,” sê Brian Oxman, die Jackson-familie se prokureur, “maar sy dood is nie onverwags nie, gegewe die medikasie wat hy gebruik het. Die mense om hom het hom dit toegelaat. Ons was al geruime tyd bekommerd daaroor.”

In die dae ná sy skielike hartaanval het lede van die dwelm-eenheid van die federale polisie en Los Angeles se polisiemag 28 verskillende soorte medisyne uit Michael se huis verwyder.

Naas Diprivan (die generiese naam is Propofol) het die lykskouer ook die pynstillers Demerol, Methadone, Fentanyl, Vicodin en Dilaudid, die susmiddels Valium en Xanax en die slaapmiddel Ambien in sy liggaam gevind.

Wie op dees aarde het hierdie sakke vol medisyne, waarvan sommige dodelike kombinasies kan vorm, aan Michael voorgeskryf?

Ondersoekers se visier is glo gerig op vyf dokters wat die popster in die verlede behandel het.

Michael is die derde glanspersoon wat in die afgelope drie jaar die slagoffer van voor-skrifmedisyne geword het.

Die Oscar-ster Heath Ledger is in Januarie verlede jaar op 28 jaar dood nadat hy vyf soorte voorskrifpille en ’n slaapmiddel wat sonder voorskrif gekoop kan word, saam gesluk het.

En die glansmodel en skatryk weduwee Anna Nicole Smith is in Februarie 2007 op 39 jaar dood weens ’n kombinasie van nege verskillende middels, onder meer Methadone en Valium, wat ook by Michael en Heath gevind is.

Lees meer oor hoe gevaarlik dit is om verskillende soorte medikasie te meng in die Huisgenoot van 23 Julie.