
Ons almal ken hulle – mense wat so verbitterd is dat jy nie glo hulle sal ooit verander nie. En nou meen navorsers sekere van dié galbitter mense sit eintlik met ’n geestesversteuring wat behandel behoort te word.
Dis die knaende bitterheid van die man wat sy werk verloor het weens besnoeiings, maar bly glo dit was persoonlik teen hom gemik. Dis die vrou wat maande ná die einde van die verhouding nog wraakgedagtes koester en probeer bewys haar eks was die eintlike vark in die verhaal – ontnugterde siele wat maar net nie kan vrede maak met ’n trauma-tiese terugslag nie.
Soveel mense word verlam deur bitterheid en dit is so afbrekend dat dit tyd geword het om dit as ’n unieke geestesiekte te klassifiseer, sê die Duitse psigiater dr. Michael Linden, hoof van ’n span sielkundiges wat die afgelope sewe jaar hieroor navorsing doen. As hy sy sin kry, word post-traumatiese bitterheidversteuring amptelik as ’n siekte in die volgende uitgawe van die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Geestesafwykings vermeld. Dié handleiding dien as die interna-sionale bloudruk van geestesiektes.
Mense in die greep van die bitterheidversteuring dink obsessief oor ’n traumatiese gebeurtenis en dit begin hul lewe oorheers, verduidelik Michael. ‘‘Dis ’n patologiese reaksie op ’n enkele, negatiewe gebeurtenis soos konflik by die werk, ’n egskeiding, werkloosheid, siekte of skeiding.
‘‘Sulke mense glo hulle hoef nie self te verander nie, hulle glo die wêreld of diegene wat hulle verontreg het, moet verander – daarom sal hulle nie sommer hulp vra nie en eerder wraakgedagtes koester,’’ sê Michael.
Die groot vraag is hoe normale bitterheid, wat byna alle mense die een of ander tyd in hul lewe ervaar, verskil van bitterheid as siekte. Is dit nie maar net ’n nuwe naam vir ’n oeroue, universele emosie nie?
Nee, sê Michael, mense wat aan posttraumatiese bitterheidversteuring ly, kan hulle eenvoudig nie losmaak van die gevoel dat hulle slag-offers is nie. Pleks dat hulle die verlies, vernedering of pyn probeer verwerk, bly hulle kwaad, pessimisties en aggressief, met gevoelens van hopeloosheid en haatdraendheid. En hulle wil juis hê mense moet weet hoe sleg hulle behandel is.
Lees meer oor hierdie interessante bevindings in Huisgenoot van 9 Julie.