
Baie stories oor Michael Jackson doen die ronde: Hy was verslaaf aan dwelms. Hy was gay. Hy wou ’n vierde kind aanneem . . . Wat waar is en wat nie, weet geen mens nie. Wat wel so seker is soos môre se sonsopkoms, is dat die koning van pop bitter lief was vir sy kinders.
Dis waar, hy het hulle laat maskers dra en daarop aangedring dat hulle elke aand hul speelgoed weggooi omdat hy geglo het dis vol kieme – maar hy wou ook net die beste vir hulle bied. Hy wou hê hulle moes so normaal moontlik in ’n abnormale wêreld grootword en was desperaat daaroor dat hulle nie soos hy obsessief oor hul voorkoms raak nie.
Prince Michael jr. (12), Paris Michael Katherine (11) en Prince Michael II (7), oftewel Blanket, is byvoorbeeld verbied om te lank in spieëls te kyk. Toe Michael se oudste eendag sy hare kam en sê: “Ek lyk fantasties,’’ het Michael dadelik vir hom gesê: “Nee, jy lyk oukei.’’
J. Randy Taraborrelli, wat Michael 40 jaar lank geken en ’n biografie oor hom geskryf het, sê hy was ’n liefdevolle pa.
‘‘Klein Blanket was gelukkig en Prince Michael en Paris was slim, vol selfvertroue, liefdevol en bedagsaam,’’ vertel hy oor sy indrukke tydens sy besoeke aan die Jacksons.
‘‘Hulle bid voor maaltye. En as een van hulle stout was, moes hulle in ’n hoekie gaan afkoel. Hy het hulle geleer om nooit van hul speelgoed as ‘myne’ te praat as hul vriende daar is nie; hy wou hulle leer om te deel.’’
Voor die pretpark op die Neverland-landgoed vervalle geraak het, het Michael gesorg dat dié plek spesiaal bly. Die kinders kon net op die kermiswiel, wipwaentjies en ander ritte ry as dit hul verjaardag of ’n spesiale geleentheid was.
‘‘Hy was baie gesteld daarop dat sy kinders met die regte waardes grootword,’’ vertel rabbi Shmuley Boteach, wat vroeër Michael se spirituele raadgewer was.
Lees Pieter van Zyl se indrukke oor die roudiens in Huisgenoot van 16 Julie.