
DIE een oomblik kyk sy nog deur die venster na die jong leeuwyfie, veilig agter die ruitglas – of so glo die agtjarige Courtney Sparrow.
Die leeu se stert piets deur die lug. Die volgende oomblik sien die meisietjie hoe ’n groot voorpoot deur ’n gaatjie in die ruit na haar reik. Toe splinter die glas, en die leeuwyfie gryp haar aan die regterarm.
Toe sy weer sien, sleep die leeu haar deur die stukkende ruit tot op die grasperk buite. En toe kom die mannetjie en sluit sy kake om haar kop . . .
‘‘Toe ek my kind daardie dag sien, het ek gewonder of sy ooit weer normaal sou wees. Haar haarlyn was skielik in die middel van haar kop. Daar was oral bloed, en sy het net geprewel: ‘Mamma, help my.’ Ek het my doodgeskrik,’’ vertel Margaret Sparrow twee weke later langs haar dogter se bed in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg.
Die dapper meisie sit klaar met vetkryte en ’n inkleurboek op haar skoot net twee dae nadat sy uit die waakeenheid verskuif is. Haar kop en linkeroogbank lyk soos ’n padkaart van al die steke, maar sy glimlag asof sy geen pyn voel nie.
‘‘Ek het baie geskrik en geskree. Ek was nogal bang,’’ erken sy en wys trots sy het die verband afgehaal van haar regterarm, waar sy 21 krammetjies (soos steke) het.
‘‘Ons het nog nie die moed gehad om te tel hoeveel steke daar in haar kop is nie,’’ sê Margaret en vryf oor haar dogter se hare wat nou kort teen haar kop afgeskeer is. ‘‘Ons is net bly sy is nog hier. En dat sy nie ’n arm of haar oog verloor het nie. Dinge kon baie anders gewees het.’’
Dit is byna ondenkbaar dat die leeus wat hulle in die kamp by die tweede woning op hul plaas in Zimbabwe gesit het juis om dit teen besetters te beskerm, amper hul dogter se lewe gekos het, sê Margaret.
Lees meer oor die dramatiese gebeurtenis in Huisgenoot van 9 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.