
Vyf jaar lank het hy dit sy lewenstaak gemaak om die grootste bank in Suid-Afrika in die hof te pak. Party dae het hy moedeloos geword oor die groot stryd. Maar dan het hy net sy oë op die belangrikste doel gehou – om sy goeie naam in ere te herstel.
Daar was niks wat Rico Bernert van Johannesburg, motorwerktuigkundige van beroep, nie sou doen om te bewys Absa-bank het hom ’n saketransaksie van miljoene rande met ’n Arabiese sjeik gekos nie.
Toe dagvaar hy die bank vir R187 miljoen – en pas het die hof hom gelyk gegee.
Vir Rico het dit nie net oor geld gegaan nie. Hy was ook moeg vir groot instellings se ‘‘mentaliteit’’ dat hulle die ‘‘klein mannetjie’’ kan vertrap sonder om op die gevolge ag te slaan.
Vir Rico was die gevolge groot. Mense om hom het hom soos ’n ‘‘virus’’ behandel, juis omdat die indruk geskep is dat hy deur die saketransaksie bedrog wou pleeg.
Nou het die Pretoriase hooggeregshof beslis Absa is aanspreeklik vir die skade wat Rico weens die mislukte transaksie gely het. Rico en die bank moet ooreenkom oor die bedrag wat hy aan skadevergoeding betaal moet word, en as hulle nie kan nie, sal die hof dit bepaal.
‘‘Die dag toe ek besef Absa het my transaksie gekelder, was ek woedend. Ek het genoeg gehad. Dit het vir my ’n persoonlike saak geword en ek het besluit ek sal na die uithoeke van die aarde gaan om te bewys ek is reg,’’ vertel Rico by sy huis in Johannesburg.
Nou kan hy tot rus kom.
Dit het begin met Rico se droom om ’n vierwielaangedrewe voertuig te vervaardig en na die buiteland uit te voer. Dié voertuig, die Rotrax El Macho, sou vir siviele en militêre doeleindes gebruik kon word.
‘‘Dit was nog altyd my droom om ’n motor te bou. Ek is lief daarvoor om met my hande te werk,’’ sê Rico. Hy het die ontwerp van Engeland aangekoop en dit aangepas voor hy ’n prototipe gebou het.
Lees meer oor Rico se stryd in Huisgenoot van 30 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.