
‘‘DIE wêreld is gemaak vir mense wat kan loop. Jou arms is nie gemaak om jou bene te wees nie en jou hande om jou voete te wees nie. Jy moet kan lóóp.’’
Razelle Botha (19) vryf oor die wiele van die rolstoel wat sedert Februarie haar bene is en glimlag dapper. ’n Meisie met sulke deursettingsvermoë hoef ’n mens nie te bejammer nie.
Nadat ’n rower die skrander voormalige Hoërskool Waterkloof-leerder vyf keer geskiet het, het sy amper ’n week lank om haar lewe geveg. Omdat een van die skote ’n rugwerwel vermorsel het, het dokters gemeen sy sal nooit weer kan loop nie. Maar nou, agt maande later, gee sy reeds skuifeltreë met haar krukke.
‘‘Ek dink ek is nou eers regtig eerlik met myself oor wat gebeur het,’’ vertel sy. ‘‘Aan die begin wou ek net beter word. Ek het geglo as ek hard genoeg oefen, sal ek weer kan loop. Nou besef ek dit sal ’n wonderwerk kos voor ek weer normaal sal kan loop. Ek kan my spiere sterker oefen, maar dit duur jare vir ’n senuwee om weer te groei. As dit ooit aangroei.’’
Sy staar na die krukke wat teen die televisiekas van haar ouerhuis in Moreletapark in Pretoria staan. ‘‘My droom is om heeltemal onafhanklik van my rolstoel te wees, maar ek sukkel nog op die krukke.’’
Tog, met sulke vordering binne agt maande wonder jy of sy nie nog agt maande later dalk haar rolstoel sal bêre nie . . .
RAZELLE se jong labrador, Whooky, spring teen ons op en hardloop wye draaie om sy nooi se rolstoel. ‘‘Hy is die beste geskenk wat my pa ooit vir my kon gee,’’ sê die meisie wat verlede jaar agt onderskeidings in matriek behaal het.
‘‘Ek gaan hom laat oplei as ’n hulphond. Hy is my beste vriend. Hy is net daar vir my en oordeel my nie. Dit maak nie vir hom saak dat ek anders is as wat ek was nie.’’
Lees meer oor Razelle se dapper stryd in Huisgenoot van 16 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.