
DERTIEN jaar gelede het hy vir die kameras geglimlag toe ’n jurie hom op ’n dubbele moordklag vrygespreek het. In die openbare galery het verheugde familie en vriende sy vryheid gevier.
Maar die O.J. Simpson wat nou die dag in die hof opgestaan het, was wêrelde verwyder van die jubelende mens van 1995. Toe die jurie hom skuldig bevind, het hy diep uitgeasem, sy wange gebol, en toe inmekaargekrimp terwyl hofbeamptes sy hande agter sy rug vasgeboei het.
Op die galery het sy suster inmekaargesak. Sy vriendin en sy dogter het in trane uitgebars.
Die voormalige Amerikaanse voetbalster is pas aan roof en ontvoering skuldig bevind, maar baie mense glo hy word eintlik gestraf omdat hy destyds skotvry daarvan afgekom het nadat sy eksvrou en haar kêrel vermoor is.
Die hofsaak wat op 3 Oktober in Las Vegas geëindig het, was in die oë van talle Amerikaners eintlik net hoofstuk twee van die een wat op 25 Januarie 1995 in Los Angeles begin het. Dit het die Amerikaners toe dertien jaar gekos, maar op die ou end het hulle besluit O.J. Simpson is ’n skuldige man.
Wanneer hy op 5 Desember gevonnis word, sal die 61-jarige eks-ikoon hoor of hy die res van sy lewe in die tronk gaan deurbring – ’n duur prys vir ’n aand van dwaasheid waarin niemand seergekry het nie.
Verlede September het O.J. gehoor sportaandenkings wat hy geglo het syne was, word by ’n hotel in Las Vegas verkoop. Hy wou dit terughê, toe maak hy ’n paar pelle met vuurwapens bymekaar, storm by ’n hotelkamer in en vat die aandenkings.
Twee dae later is hy en drie ander aangekeer en aangekla van sameswering, ontvoering, aanranding, roof en die gebruik van ’n dodelike wapen.
Toe twee van sy medebeskuldigdes staatsgetuies word, was dit klaarpraat met O.J.
Al twaalf die jurielede het hom hierdie keer skuldig bevind . . .
Lees meer oor O.J. Simpson in Huisgenoot van 16 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.