
Terwyl sy op die mat met haar baba speel, flits die beeld van ’n ander klein blondekop-dogtertjie met die pragtigste blou ogies voor haar geestesoog. Haar Nikola, dink sy met ’n sweempie van ’n glimlag.
Toe druk Jaroslava Trojanova die prentjie vinnig weg. Sy moet daar wees vir Veronika, haar eie vlees en bloed. Daar is nie meer plek vir Nikola, die baba wat sy in haar eerste tien lewensmaande as haar eie grootgemaak het nie . . .
Dit wat vroeg in Desember twee jaar gelede in ’n hospitaal in Tsjeggië gebeur het met twee jong ma’s met dieselfde naam en van dieselfde ouderdom, is ’n tragedie wat steeds lang skaduwees gooi.
Net meer as ’n jaar gelede het Jaroslava Trojanova en Jaroslava Cermakova – albei nou in hul middeltwintigerjare – ontdek die een sit met die ander se baba.
Personeel by die hospitaal in Trebic in die suide van Tsjeggië, waar hul babas op 9 Desember 2006 gebore is, het per ongeluk die babas omgeruil.
En so moes hulle kort voor die dogtertjies se eerste verjaardag die kinders wat hulle as hul eie liefgekry en versorg het, aan hul biologiese ouers terugbesorg. In Desember vanjaar vier Nikola en Veronika hul tweede verjaardag en Kersfees saam met hul regte mammas, maar die pyn van die fout wat daardie dag by die hospitaal gemaak is, gooi steeds ’n donker wolk oor albei gesinne.
Almal doen hul bes om verlore tyd in te haal, sê Nikola se ma, Jaroslava Cermakova. ‘‘Maar elke keer dat ek haar soen en ruik en was en voed, dink ek aan die ander kind wat ek moes prysgee, en ’n deel van my sterf weer.’’
DIT voel soos gister toe die vroue opgewonde op die koms van hul eersteling gewag het. Maar nou het alles so ingewikkeld geword, en daar is niks wat hulle kan doen om die verlede ongedaan te maak nie.
Lees meer oor die vroue se stryd in Huisgenoot van 23 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.