
Toe sy hoor sy is as die voorste burgemeester in die wêreld aangewys, het Helen Zille nie die aand uitgegaan om fees te vier nie. Nee, sy’s huis toe om baas-baas te gaan speel vir haar 24-jarige seun, Paul.
‘‘Hy het die volgende dag ’n belangrike werkonderhoud gehad, en hy het gebel om te vra dat ek hom help met ’n skynonderhoud,’’ vertel Helen. ‘‘Ek het toe so gemaak, want familie kom altyd eerste.’’
Tog het dié petite vrou se lys prestasies net nóg langer geword sedert ons vorige kuier vroeg verlede jaar (Godzille – wat ’n lammetjie!, 29 Maart 2007). Kritici wat volgehou het sy kan onmoontlik tegelyk leier van die Demokratiese Alliansie (DA) en burgemeester van Kaapstad wees, kyk nou lelik op hul neus.
Want hier is sy nou pas uit 820 burgemeesters wêreldwyd gekies as die heel beste . . .
’n Week of wat later is dit wel tyd vir feesvier, en jy kan sommer sien Helen is vandag hoog in haar noppies met haar kollegas hier in die burgersentrum in Kaapstad.
Hulle het ’n feesmiddagete berei, en daar is ’n vrolike gedruis in haar kantoor. Sy neem die voortou en sing luidkeels saam toe ’n paar werkers speels lostrek met Jacob Zuma se strydlied, Umshini Wami. Sy ken die woorde en swaai haar lyf ritmies saam. Toe sny sy ’n koek en lag lekker toe ’n miniatuur-koekie met ‘‘Number 1 Boss’’ aan haar oorhandig word.
Later vertel sy haar sukses as burgemeester is te danke aan dié gedugte span.
‘‘Al die hoogtepunte tot dusver is danksy spanpogings, ook saam met die regering en die privaat sektor – van die prestasie om Kaapstad van bankrotskap te red tot die projekte wat misdaad aansienlik laat afneem het en die voorsiening van basiese geriewe in townships.’’
Dat Kaapstad se burgemeester dié eer verdien, is ’n bewys dat ‘‘ons ten minste die skip van wanbestuur en korrupsie omgedraai het’’, sê Helen trots.
Lees meer oor dié merkwaardige vrou in Huisgenoot van 30 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.