
Sy het beskuit en dosyne vleispasteitjies gebak en verkoop om genoeg geld in te samel sodat haar dogter al die nodige dingetjies kon koop om op skool aan atletiekbyeenkomste te kon deelneem. Smiddae het sy op Noordwes se plaaspaaie agter haar jongste aangery sodat dié kon draf tot sy moeg word voor sy in die motor klim.
Maar ná jare se opofferings wil Martie Storbeck nou net huil wanneer sy aan Hestrie Cloete dink, sê een van haar kleindogters.
Hul dominee sê Martie en haar man, Willem, moet die hoogspringatleet se outobiografie liewer nie lees nie, want hul dogter se harde woorde en aantygings gaan hulle so erg ontstel dat dit hul dood sal beteken.
‘‘My ouma en oupa is nie gesond nie; dit gaan nie goed met hulle nie,’’ sê een van die Storbecks se dertien kleinkinders. ‘‘Hestrie maak hulle so seer. My ouma huil heeltyd en my oupa raak ál stiller. Hy was altyd vol grappies, maar deesdae bly hy eenkant. Hy kwyn weg.
‘‘Almal dink hulle is vreeslike mense, maar hulle mag niks sê om hulself te beskerm nie,’’ sê dié susterskind van Hestrie.
Want selfs al slinger Hestrie ’n string verwyte teen haar ouers in My Pyn, My Glorie, haar outobiografie wat pas verskyn het, kan die Storbeck-egpaar nie terugpraat nie. Hul hart is gebreek en hul mond is gesnoer.
Die atleet het sedert haar dogter, Chrizette, se geboorte ’n bietjie meer as twee jaar gelede nog geen kontak met haar ouers gehad waar hulle steeds op die dorpie Coligny woon nie. Sy het ook ’n interdik teen hulle gekry wat hulle verhinder om met die media te praat.
‘‘Hestrie wil haar nie meer met ons vereenselwig nie. Dis asof sy skaam is vir haar ma en pa,’’ sê die Storbecks se kleinkind, wat ontsteld raak wanneer mense vir haar sê sy lyk op ’n haar soos haar tannie Hes.
Lees meer oor Hestrie, haar outobiografie en haar familie in Huisgenoot van 30 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.