Friday, 31 October 2008

Wees eerlik en oorleef swaar tye


Geheime in ’n huwelik is ’n vretende ding. En nou is daar ’n nuwe geheim wat saam met egpare in die bed klim en die nagte koud en eensaam maak: skuld.

Skuld, sê die kundiges wat egpare daagliks uit hul finansiële krisisse moet help, trap deesdae vernietigende spore in eens gesonde huwelike.

‘Die geheime kan ’n huwelik kwaai skade berokken,’ sê Ulandé Janse van Rensburg, ’n skuldberader van Vanderbijlpark. ‘Ek moes nou die dag ’n paartjie ure lank bystaan om hulle ’n middeweg te help vind om hul skuld te delg. Dis byna soos om ’n huweliksberader te wees.’ Selfs predikante vertel van mense wat vra dat die kerk hul huis- of motorpaaiemente ’n maand of wat betaal.

Sedert die wêreldekonomie ’n jaar gelede stoom begin verloor het, het sommige skuldberaders se werklas hemelhoog geklim. Volgens statistieke gaan minstens 6 miljoen Suid-Afrikaners onder skuld gebuk.

‘ ’n Jaar gelede het ons tien aansoeke per dag om skuldhersiening gekry, deesdae is dit tweehonderd,’ sê André Snyman, hoof van ’n skuldberader-onderneming in Johannesburg.

Een van die skuldberaders se belangrikste rolle is om krediteure daarvan te verwittig dat ’n kliënt onder skuldhersiening is. Die kliënt mag geen verdere skuld aangaan nie en mag ook nie weens skuld vervolg word in die sestig dae nadat die skuldberader die krediteur in kennis gestel het nie.

Mense is te trots om te erken as hulle in die knyp is en nie weet hoe om daar uit te kom nie, sê Ulandé. Hulle dink dit is net hulle wat sukkel, maar dit is beslis nie so nie. Dit is ook nie net mense wat rojaal geld uitgegee het wat nou in die moeilikheid is nie.
’Niemand kon begroot vir die wêreldkrisis nie. Hoe kon jy keer dat huispaaiemente binne een jaar so skerp styg?’

Geldprobleme in die huwelik hanteer ’n mens nes enige ander probleem, sê die sielkundiges. Moenie geheime hê nie. Wees openlik en eerlik met mekaar oor jul handelings en jul vrese. Los die verwyte en besluit saam dat julle jul probleme sal aanpak en oorwin. En maak dan werk daarvan.

Lees meer oor hoe om die skuldspook te ontwyk in Huisgenoot van 6 November.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.