
Dit beloof om die grootste jol van die jaar te wees. En bekyk jy die kaliber kunstenaars wat by SkouspelPlus gaan optree, weet jy sommer: Hier kom ’n ding – ’n Kaapse ding.
As die Moederstad ’n opskop hou, word hy met mening gehou, sê die gewilde sanger Emo Adams, wat onlangs by Huisgenoot-Skouspel in Sun City behoorlik die voete laat jeuk het. Emo is hoog in sy skik dat SkouspelPlus in sy geweste plaasvind. Hy is dan self ’n Kaapse klong!
Die vorige Kaapse Jol was reeds ’n musiekervaring soos min, en die herdoopte Jol – nou SkouspelPlus en ’n gesamentlike glans-aanbieding van Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU – gaan net stukke groter en beter wees, sê die organiseerders.
Hierdie keer verruil ons die Bellville-fietsrystadion vir die splinternuwe en alte swierige Grandwest Arena by die GrandWest Casino by Kaapstad. Daar is plek vir 5 000 mense, maar gou spring, want die kaartjies gaan soos soetkoek verkoop.
Op Saterdag 14 Maart kan jy jou vere regskud vir een van die grootste plaaslike produksies op musiekliefhebbers se kalender. Op dié dag gaan van die bekendste gesigte in die musiekbedryf die gehoor vermaak met musiek van allerlei aard op twee konserte, een om drieuur die middag en weer een om agtuur die aand.
Gevestigde Skouspel-sterre soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en Laurika Rauch en opwindende jong nuwelinge soos Andriette Norman van Idols-faam en Bobby van Jaarsveld gaan op die verhoog klim.
Die meisie wat Afrikaans laat rock, Karen Zoid, Brandon October, Jennifer Jones, die immer gewilde Nicholis Louw, Robbie Wessels en die tenoor Jannie Moolman het laat weet hulle is ook daar. Vir die vroue met ’n oog vir ’n mooi man is daar die drie hartebreker-manne van Eden.
En watter twee seremoniemeesters sal die pret beter aan die gang hou met hul stoute kwinkslae as Margit Meyer-Rödenbeck en Alvin Bruinders? Verwag baie pittighede, ’n bietjie geskinder en oneindige gevathede van dié twee gewilde akteurs.
Nou wat maak jy dan nog daar op jou rusbank? Sit nou af Computicket toe en kry dadelik jou kaartjie. Dit gaan ’n opskop wees wat jy beslis nie wil misloop nie.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 6 November.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.