
DIT was ’n lieflike vroeg-somerdag en die paartjie, wat skaars vyf maande getroud was, het heerlik in hul rubberboot op die Vaalrivier baljaar. ’n Ou vriend het die spesiale oomblikke tussen Russell Duvenhage en sy jong bruid, Kelly, op kamera vasgevang.
‘‘Alles was wonderlik,’’ vertel die vriend, Bradley Wilson. ‘‘Kelly het dit so geniet. En Russell was so trots op sy boot.’’
Maar die sorgelose Saterdagmiddag het eensklaps in ’n nagmerrie ontaard toe ’n motorboot bo-oor die rubberboot met sy drie insittendes jaag.
Bradley is al een wat ongeskonde daarvan afgekom het. Russell (27) se neus, kakebeen en al die ander bene in die onderste helfte van sy gesig is gebreek.
Kelly, wat op 21 Oktober haar 21ste verjaardag sou gevier het, is eers die volgende dag diep onder die water tussen riete gevind.
‘‘Ek sukkel om dit te verwerk,’’ vertel Bradley by Russell, ’n eiendomsontwikkelaar, se ouerhuis in Edenvale aan die Oos-Rand.
‘‘Dit is soos ’n fliek wat heeltyd in my kop draai. Ek sien dit oor en oor. Ek wonder wat ons anders kon gedoen het, en of ek nie vinniger kon gereageer het nie.’’
Maar waaroor hy die skuldigste voel, is dat hy nie soos Russ – soos hy sy ou vriend noem – in die hospitaal lê nie. ‘‘En dat ek nie dood is in plaas van Kelly nie,’’ sê hy.
Hy vroetel met die foto’s wat hy van die twee geneem het. ‘‘Hulle was die perfekte paartjie. Nou is sy weg.
‘‘Russ kry swaar. Ons het nog saam na die sonsondergang gekyk. Nou het die son vir altyd vir haar ondergegaan.’’
KELLY se pa, Eddie Ryan van Centurion, is so stukkend oor sy dogter se dood dat hy sukkel om deur die snikke oor haar te praat. ‘‘Ek het die Saterdagaand ’n oproep gekry dat daar ’n ongeluk was en dat ek dam toe moet gaan. Die gewag was verskriklik.’’
Lees meer oor die tragiese gebeure in Huisgenoot van 23 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.