
Sy pluk geïrriteerd aan haar pienk doek onder die ewe pienk valletjiesrok met die kant en silwer blinkertjies. Die doek is nat en sy raak erg knieserig wanneer haar boudjies vuil is.
‘‘Toe maar, my kleinding, Ma gaan jou nou skoonmaak. Laat ek net gou ’n doek gaan haal vir Mamma se liefie.’’
Gou is die doek en ’n nat lappie byderhand. Debby Koen hou Yvonne behendig met die een hand vas, en met die ander haal sy die vuil doek af en vee vinnig die boudjies skoon.
‘‘Los ma se oorbelle, my goggolollie,’’ sê Debby en lag terwyl Yvonne wriemel en aan haar hare en oorbelle trek waar sy ’n skoon doek om haar boudjies probeer vasmaak.
Nou maak Debby eers seker haar baba se stert pas deur ’n spesiale gaatjie in die doek. Want Yvonne is nie sommer enige baba nie – sy is ’n klouapie wat Debby sedert geboorte soos ’n kind grootmaak saam met nog ’n apie, Rocco.
Die twee bad saam met haar, het hul eie fopspene en bababottels, ’n bed met ’n satynlaken en ’n kas vol klere. En hulle gaan oral waar Debby gaan – selfs kerk en Spur toe . . .
Haar liefde vir ape kom al van kleins af, maar dit was die klou-apies wat haar hart gesteel het. ‘‘Ek kan my nie ’n dag sonder hulle voorstel nie. Hulle is soos mense en laat jou lag as jy moeg en moedeloos is,’’ gesels Debby terwyl sy liefderik oor Rocco en Yvonne se sterte vryf.
Rocco sit graag op sy ma se rooibruin opgekamde hare, terwyl Yvonne Debby se skouer verkies.
‘‘Hulle is 24 uur per dag by my. Ek was nog net een dag sonder hulle, maar toe bel my seun en sê ek moet dadelik terug, want Rocco wil niks eet nie,’’ vertel Debby, wat saam met haar man, Derick, hul seun, Jémin, en ’n pleegseun, John-Ray Hattingh, in Rustenburg woon.
Lees meer oor Debby en die apies in Huisgenoot van 30 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.