Friday, 10 October 2008

So glimlag ’n kampioen


DIE sweet het eers skuins ná die middaguur op sy voorkop begin pêrel. Ten spyte van die hitte wat die kwik tot by 36 °C laat styg het, het die Vrystater heeloggend koelkop gebly . . . tot middagete aangebreek het.

Dis toe dat Dewald Rabie koorsig begin bewe. Want dit was immers die derde keer dat hy die land se beste boereworsmakers aangedurf het en hy wou dié keer rêrig bewys hy is die koning van die kole.

En daar word Dewald toe wraggies aangewys as die kampioen onder die tien finaliste vir vanjaar se Shoprite Checkers- nasionale Championship Boereworskompetisie!

Dewald was skoon aangedaan toe hy voor ’n skare van swemmers en sonbaaiers as die voorste worsmaker gekroon is by Sun City se Valley of the Waves. Hy het sy trofee bewend ontvang en kon skaars woorde vind om sy vreugde te beskryf.

‘‘My oupa het in ’n slaghuis gewerk en my pa het in ’n slaghuis gewerk. Ek is die derde generasie wat met vleis werk; vleis was nog altyd in my bene en in my bloed,’’ het die pa van twee oorbluf gesê.

Die 47-jarige slaghuisbestuurder van Shoprite in Kroonstad was veral oorstelp toe hy die sleutels ontvang vir sy prys, ’n splinternuwe Toyota Hilux 2.7-dubbelkajuit-Raised Body Raider.

‘‘My vrou, Martie, is erg opgewonde oor die nuwe ryding!’’

Die kampioen en sy gesin wen ook R2 500 se vakansiegeskenkbewyse van All Gold, R750 se geskenkbewyse van Simba en R2 000 kontant van Coca-Cola.

‘‘Ek het soveel slapelose nagte gehad voor die eindronde. Ek het nooit gedink ek gaan wen nie; dis ongelooflik om te besef ek is eerste,’’ het Dewald gesê.

Maar hy wou nie verklap wat die geheime bestanddeel van sy boereworsresep is nie.

‘‘Dis belangrik om graad A-vleis en goeie speserye te gebruik . . .’’ is al wat hy geheimsinnig laat hoor het.

Sy wen-boerewors is van 15 Oktober af in die vleismarkte van alle Shoprite- en Checkerswinkels landwyd verkrygbaar.

Lees meer oor die boereworskompetisie in Huisgenoot van 16 Oktober.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.