
Die dokter lyk nie soos ’n ou wat hou van baklei nie. En hy is ook nie, maar wanneer dit gaan oor lewe en dood en pasiënte se reg op behandeling, wyk hy geen duim vir enigiemand nie.
Dit is dié houding wat Malcolm Naudé (34) ses jaar gelede sy werk by ’n staatshospitaal in Mpumalanga gekos het omdat hy antiretrovirale middels vir vigspasiënte voorgeskryf het.
Ses lang jare het hy geveg om sy naam in ere te herstel en te bewys: Hy was reg, hulle was verkeerd. En nou, met ’n uitspraak in die arbeidshof op 21 Oktober, het hy dit eindelik reggekry – en skadevergoeding van R100 000.
Toe Malcolm sewe jaar gelede verpligte gemeenskapsdiens by die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit gedoen het, was antiretrovirale middels net beskikbaar vir dokters of personeel wat per ongeluk met ’n naald geprik is.
Dit was vir hom onaanvaarbaar, en hy kon nie toesien dat ’n dokter voorkeurbehandeling bo ’n verkragte vrou of kind kry nie.
Die eerste maand in die hospitaal het hy weekliks verkragtingslagoffers gesien. Die hulp van die Greater Nelspruit Rape Intervention Project (Grip), ’n organisasie wat slagoffers steun bied, is ingeroep en het saam met die polisie en maatskaplike werkers gewerk.
‘Dit het die staat niks gekos nie,’ vertel Malcolm. ‘Die dokters het dit voorgeskryf en ’n apteek in die dorp het die medisyne verskaf.’
Vyf maande lank het alles vlot verloop, tot die plaaslike LUR van destyds, Sibongile Manana, daarvan te hore gekom het. ‘Sy was omgekrap en het gesê dis nie die departement se beleid om antiretrovirale medisyne voor te skryf nie.’
In Februarie 2002 is Grip letterlik een oggend uit die hospitaal gegooi en hul ondersteuningsnetwerk was daarmee heen.
Toe is hy na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, en ná jare van oponthoud het die kommissie tot dieselfde slotsom gekom.
‘Enige pasiënt is daarop geregtig om sy behandeling te kies en ’n dokter kan nie toelaat dat die werkgewer hiermee inmeng nie. Dit gaan nie oor wat beter vir die hospitaal is nie. As ’n mens vir die pasiënt ’n keuse kan bied, behoort die pasiënt dit te kry.’
Lees meer oor Malcolm se stryd en sy oorwinning in Huisgenoot van 6 November.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.