
’N MAAND voor borskanker meer as tien jaar gelede by haar gediagnoseer is, het Janie du Plessis (46) ’n betekenisvolle reis onderneem. Sy het op haar Harley-Davidson gespring en van die noorde van Spanje tot in die suide gery.
‘‘Ek was keelvol en moes net ’n bietjie alleen wees. Dit was die wonderlikste ervaring denkbaar om die oop pad so op ’n motorfiets aan te durf. Ek het deur Madrid gery en op die dorre vlaktes op pad na Sevilla het ek rus vir my siel gekry.’’
Nou pak sy weer ’n avontuur op ’n Harley aan, maar dié keer nie op haar eie nie. Sy en nog twaalf vroue wat borskanker oorleef het, trek op 10 Oktober uit Soweto weg op die Reis van Hoop-borskankerrit 2008 – ’n tog van 2 000 km wat hulle agt dae later tot in Kaapstad sal bring.
Met dié reis wil hulle mense bewus maak daarvan dat borskanker genees kan word as dit vroeg genoeg opgespoor en behandel word, verduidelik Janie.
‘‘Ons gaan ook geld insamel vir twaalf vroue wat borsrekonstruksie moet ondergaan weens kanker, maar dit nie kan bekostig nie.’’
Dit is ’n droom wat sy al jare lank koester, sê Janie. ‘‘Ek wou al lank my oorwinning oor borskanker op ’n spesiale manier vier. ’n Vriend het voorgestel dat ek ’n berg gaan uitklim, maar ’n kloutery staan my nie aan nie. Dié reis is net wat ek nou nodig het.’’
SY HET ’n moeilike paar maande agter die blad, vertel Janie oor ’n koppie tee in die Mount Nelson-hotel naby haar huis in Kaapstad. Eers was daar die skoknuus van haar Italiaanse eksman, Massimo Beltrami, se dood in September verlede jaar.
Hulle het ná die egskeiding in 1999 bitter min kontak gehad, maar sy en die seuns, Misha en Benito, was op pad om vir hom in Portugal te gaan kuier toe die oproep kom dat hy onverwags aan ’n hartaanval dood is.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 9 Oktober.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.