Friday, 01 May 2009

Geen rus vir haastige Helen Zille


Vryheidsdag staan die nuwe premier van die Wes-Kaap uitgesluit op straat voor die Demokratiese Alliansie se kantoor in Kaapstad. Helen Zille moet iemand bel om te kom oopsluit – maar dit bring dié formidabele vrou nie vir ’n oomblik van stryk nie. In ’n sweetpak en tekkies lyk sy gereed om teen Tafelberg op te draf.

In die afgelope weke het sy net vier uur per nag geslaap. En ja, dit was uitmergelend, erken Helen, maar sy gloei van trots. Haar party het landwyd gegroei, maar die beste van alles, Helen word die premier van die Wes-Kaap.

Vandag het sy nog vir oulaas haar pligte as burgemeester van Kaapstad nagekom – sy’s immers nie verniet verlede jaar aangewys as die wêreld se beste burgemeester nie. Douvoordag was sy by ’n pretdraf in Athlone en toe is sy na Delft vir ’n veldtog teen kindermishandeling.

Maar nou dink sy eers net aan kos. Sy’s dodelik honger, het sedert vanoggend nog net ’n koeksister en ’n stuk beskuit geëet, vertel sy. “Gaan koop asseblief vir my ietsie warms met proteïene,’’ vra sy ’n helper . En vertel dan van haar verkiesingsavontuur.

Die helde-ontvangs wat Helen op die Kaapstadse lughawe gekry het, het haar heeltemal ontkant gevang. ‘‘Ek kon dit nie glo nie, die plek het soos ’n DA-saamtrek gelyk!’’

Die aand het sy saam met haar man en haar een seun, Thomas (19), gaan eet en ‘‘so ’n klein bietjie gaan jol saam met my kollegas’’. Toe het sy pootuit en dankbaar in haar eie bed geklim en vir die eerste keer in ’n baie lang tyd agt uur aanmekaar geslaap. ‘‘Dit was salig,’’ sug sy.

Die veldtog was ’n belewenis, sê Helen. ‘‘Op elke dorp was daar mense wat so mooi na my omgesien het. Ek het in gewone mense se huise gebly. Daar was altyd iemand om my hare te doen en ek is op die hande gedra. Ek hoop ek sal al dié mense se vertroue verdien.’’

Meer oor Helen Zille en die Kaapse premierskap in Huisgenoot van 7 April 2009.