Friday, 01 May 2009

Dokters in die skuld en gedaan


Dit was die eerste keer dat dokters in Suid-Afrika gestaak het, en onvermydelik was kwesbare pasiënte die slagoffers – mense wat ver gereis en lank gewag het op mediese behandeling, moes omdraai om op ’n ander dag weer te probeer.

En die gemoedere het hoog geloop by Suid-Afrikaners toe die minister van gesondheid, Barbara Hogan, die skoknuus bekend maak dat ’n ma in kraam gesterf het in die Mafikeng- Provin-siale Hospitaal weens ’n geskeurde baarmoeder omdat geen dokter na haar omgesien het nie.

Dit was toe ’n vergissing – dokters van dié hospitaal het nie gestaak nie, maar wel om haar lewe geveg, het ’n woordvoerder, dr. Tumelo Motou (31), gesê. En bygevoeg dat hy wel verstaan hoekom dokters moes staak.

“Hoe betaal interns hul skuld en sorg vir hul gesinne op ’n jaarlikse salaris van R117 500 en met R60 000 studieskuld? As ek ’n spesialis in verloskunde en ginekologie is, kan ek ’n gemakliker leefstyl hê met ’n privaat praktyk, maar as ál die hoogs gekwalifiseerde dokters weggaan, wie gaan gehaltesorg aan die armes bied?”

Sowat 500 van die land se 12 000 voltydse staatsdokters het twee weke gelede in ses provinsies begin staak en ’n salaris-verhoging van 50 persent geeïs. Van die dokters is by ons ter perse gaan terug werk toe nadat die arbeidshof in Gauteng ’n interdik toegestaan het ingevolge waarvan hulle moes terugkeer.
’n Intern by die hospitaal, dr. Ignatious Menjatsoe, sê die staat het steeds nie sy belofte van ’n salarisverhoging van 50 persent wat twee jaar gelede gemaak is, nagekom nie.

Geld – of die gebrek daaraan – is die meeste staatsdokters se grootste probleem. Maar hulle kla ook oor haglike werk-omstandighede en baie dokters is verskeur tussen hul verpligting om pasiënte eerste te stel en die pot aan die kook te hou.
Ignatious sê dokters van dié hospitaal moet dikwels tot 100 pasiënte per dag hanteer en bring soms minder as drie minute by elke pasiënt deur. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat dokters nie meer as 10 konsultasies per dag behartig nie sodat hulle hul werk behoorlik kan doen.

Lees meer oor hierdie kwessie in Huisgenoot van 7 April 2009.