
Sy wens dikwels sy was in ’n koma, net om te kan ontsnap van die siele-angs van nie weet wat van haar klein blondekop- Maddie geword het nie. Maar van een ding is sy seker: Sy sal nooit ophou soek na die kind wat haar hartsbegeerte was nie.
Kate McCann klem haar man, Gerry, se hand styf vas terwyl sy praat. Albei het die kenmerkende geel-en-groen bandjies, die simbool van hul veldtog van hoop en hul soektog na klein Madeleine, om hul gewrig.
Hul geliefde dogtertjie het tydens ’n gesinsvakansie in die kusdorp Praia da Luz in die Algarve in Portugal uit hul woonstel verdwyn. (Op die Spoor van Maddie, 7 Junie 2007).
Op 3 Mei was dit presies twee jaar gelede . . .
Die pyn is sigbaar op albei ouers se gesigte terwyl hulle met die kletskoningin Oprah Winfrey gesels op haar program wat die dag daarna in Amerika uitgesaai is.
Die egpaar vertel in die onderhoud van hul hoop dat Maddie nog gevind sal word. Beeldmateriaal van Madeleine se engelagtige gesiggie op ’n groot skerm op die agtergrond ruk jou aan die hart. En toe Kate en Gerry na foto’s en video’s van Maddie kyk voor haar verdwyning, sluk hulle swaar aan die trane.
Oprah vra al lank ’n onderhoud met die egpaar. Hulle was eers traag, maar het uiteindelik ingestem. Hulle hoop nuwe digitaal gemanipuleerde foto’s van hoe Maddie vandag as sesjarige behoort te lyk, kan haar dalk net help opspoor . . .
Lees meer oor die McCanns se soektog in Huisgenoot van 14 Mei.