Friday, 22 May 2009

SAUK se sepies kan verdwyn


Verbeel jou dis aandetetyd op ’n weekaand en jy skakel die TV aan om na jou gunsteling-sepie te kyk, maar al wat jy sien, is ’n kaal, swart skerm.

Klink dit na ’n grap? Wel, dit kan jou voorland wees as die SAUK nie ’n plan maak met sy geldelike probleme nie. En soos sake nou staan, kan die uitsaaier teen einde aanstaande jaar ’n ongelooflike R784 miljoen in die rooi wees. Dan sal ons geliefde sepies net ’n vae herinnering uit die goeie ou dae wees . . .

Die kontantkrisis het duisende mense in die TV-bedryf in onsekerheid gedompel. Hulle is bekommerd die bedryf sal oornag in duie stort – en as dit gebeur, sal dit jare neem om dit te herbou.

Die SAUK beskik al lank nie meer oor die infrastruktuur om self programme te vervaardig wat aan plaaslike behoeftes voldoen nie. Feitlik al die plaaslike TV-produksies word deur buite-vervaardigingsmaatskappye gemaak en aan die uitsaaier verkoop. Maar nou kan die SAUK hulle nie meer betaal nie.

In die bedryf is bereken dat die SAUK vervaardigingsmaat-skappye al tot R40 miljoen skuld vir programme wat reeds gelewer is. Die SAUK wil dié bewerings nie ontken of bevestig nie. Die uitsaaier laat trouens die meeste vrae onbeantwoord.

As dit nie was dat Stark Productions, vervaardiger van ons land se gewildste sepie, Generations, oorbruggingsfinansiering gekry het nie, sou dit al van die lug verdwyn het, sê die vervaardiger Friedrich Stark. Hulle sou nie hul akteurs en tegnici kon betaal nie. Die SAUK skuld hulle geld vir meer as 40 episodes wat al klaar vervaardig is.

Almal is angstig, sê Friedrich. ‘‘Die SAUK-bestuur het dit reggekry om ’n stroombelynde en winsgewende onderneming in ’n oorgewig, bankrot organisasie te transformeer.’’

Die sepie 7de Laan se rekening is verlede maand laat betaal. Die program se lynvervaardiger, Colin Howard, sê Danie Odendaal Produksies moes hul eie oortrekkingsgeriewe gebruik om die akteurs te betaal, maar hulle kon die personeel gelukkig 80 persent van hul salarisse gee. Twee weke later is hulle wel hul volle salarisse betaal nadat die SAUK vir die April-episodes opgedok het.

Lees meer oor die sepiesterre se dilemma in Huisgenoot van 28 Mei.