
Sy was nog op die skoolbanke toe sy die eerste keer afgehaak het. Sewe jaar later was sy in die skeihof, maar die trougogga het haar toe al gebyt, so kwaai dat sy toe nog ’n allemintige 22 keer voor die kansel gestaan het.
Vandag spog Linda Wolfe (68) van Alexandria, Indiana in Amerika, met ’n Guinness World Records-titel as die vrou wat die meeste keer ter wêreld getrou het.
Linda onthou sy was al onder meer mevroue Massie en Moxy, Smith en Street, Berisford, Chandler en Essex, maar sê reguit sy kan nie meer al haar eksmans se name onthou nie.
‘‘Ek het jare laas voor die kansel gestaan. Ek mis dit,’’ bieg die ouma wat die laaste drie jaar in ’n aftreeoord bly. Sy is in 1940 gebore as die jongste van sewe kinders. In haar jong dae wou al die seuns in die buurt met haar trou, sê Linda, en sy het meer as een keer saam met een van hulle weggeloop om die daad by die woord te voeg. Gelukkig het haar ma haar elke keer betyds gekeer.
Die jonge Linda Taylor se eerste troue was in 1957, en dit was ware liefde. Haar man, George Scott, was 31 en het pas van die weermag af teruggekeer. Die paartjie was sewe jaar getroud – haar langste en gelukkigste huwelik – voor hulle geskei het. Van al haar mans het George haar die beste behandel, sê sy.
Onder haar mans was ’n predikant, ’n kroegman en meer as een musikant. Twee was homoseksueel, en twee haweloos. Een van haar eksmans het haar geslaan en ’n paar het sommer net die pad gevat. Maar of dit nou sleg gegaan het of nie, sy was nooit ontrou nie, sê Linda.
Haar vreemdste huwelik was met die eenoog-misdadiger Tom Stutzman, ’n skatryk Mormoon wat volgens haar verkeerdelik in die tronk was weens verkragting. Hulle het sommer daar afgehaak. Haar kortste huwelik was met Fred Chadwick. Hulle was net 36 uur getroud, want hulle was nie eintlik lief vir mekaar nie, verduidelik Linda.
Lees die volledige berig oor hierdie vrou se talle wederhelftes in Huisgenoot van 21 Mei.