
Hier in Pirates in Plumstead, Kaapstad, een van sy gunsteling-kuierplekke, lyk hy sweerlik effens skraler as op TV waar hy sy Bok-trui so vurig laat wapper en high fives uitdeel terwyl Victor Matfield-hulle van die veld draf.
Maar, ja, dis onmiskenbaar Jan − die “soul van die span’’. Of, ’skuus, Malcolm Ferreira. Dalk is daai storie waar dat TV jou vet laat lyk. Of dis bloot sy harde werk sedert Player 23 vroeg vanjaar gebore is – ook die bloedsweet nou weer met die maak van ’n nuwe advertensie vir die Bok-seisoen.
Deesdae is daar vir Jan, umm, Malcolm, maar min rus. Die aanhanger der rugbyaanhangers is oral in aanvraag. En hy’t al talle interessante ervarings met sy eie aanhangers gehad sedert hy Player 23 in Vodacom se vernuftige reklameveldtog geword het.
“Daar was een voorval hier in die einste Pirates. Hierdie massiewe ou in ’n Springboktrui het nadergekom . . .’’
Die komediant, akteur en bobaas-nabootser word Frikkie, die ou in die Bok-trui. “Hy sê: ‘Jan, Jan, Jan, kom’ieso, kom’ieso, kom’ieso. Luister, luister, ou seun, luister. Ek wil hê jy moet hie’so op my mantiet teken.’
“Ek sê: ‘Umm . . . ou . . . kei?’
“En hy sê: ‘Ja, skryf hier: Aan Frikkie. Dis nie vir my nie, dis vir my seun. Ek’s ok Frikkie, maar hy’s Frikkie. Skryf nou: Aan Frikkie van groot Jan.’ ”
Sy landwye gevolg noem hom deesdae deur die bank Jan. Maar hy’s effens olik terug hier in die Moederstad ná drie dae, soms in net ’n frokkie, op die stel van die tweede Player 23-advertensie wat op 30 Mei die eerste keer uitgesaai word.
Die hele ding het met ’n bisarre oproep begin – van ’n meisie wat mooi vra hy moet asseblief ’n foto van homself sonder hemp vir haar MMS.
’n Agentskap het hom blykbaar raakgesien in ’n komiese musiekvideo van die musiekgroep Koolerbox. “Dis die sogenaamde Voice of the Benoni Underground; noem dit sommer Benoni doen Eminem,’’ beskryf Malcolm dié spulletjie. Toe besluit die agentskap hy’s hul Jan.
Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 4 Junie.