Friday, 08 May 2009

Jy kan ’n ster se pragrok wen


Dink net, hier sweef jy jou matriekafskeid binne in ’n rok wat so spesiaal is jy sou amper kon glo ’n Mej. Suid-Afrika kon dit dra. En wie weet, dalk het sy.

Want met ons splinternuwe kompetisie kan jy dalk regtig op jou groot aand ’n rok dra waarin Jo-Ann Strauss al op die glansblaaie gepronk het. Of dalk die sanger Juanita du Plessis, of die bekende model Tracy McGregor en nog vele ander glansmense.

Jo-Ann Strauss, gewese Mej. Suid-Afrika en TV-aanbieder, het die Princess Project op die been gebring om matrikulante wat nie ’n droomrok vir hul spesiale aand kan bekostig nie, te help om soos prinsesse te lyk.

Die projek het nou ’n stertjie bygekry, naamlik ons kompetisie waarin jy jou droomrok vir die matriekafskeid kan wen en dit vir altyd kan hou. En Jo-Ann het die bal aan die rol gesit deur 20 rokke te skenk.

‘‘Bekendes dra altyd pragtige rokke na glansgeleenthede,’’ sê Jo-Ann, ‘‘maar as die foto eers in die media verskyn het, kan jy nie eintlik weer die rok aantrek nie. Nou kry lesers die kans om soos ’n prinses te voel.’’

Haar eie matriekafskeid het self nie seepglad verloop nie, sê Jo-Ann van haar groot aand in 1998 by die Hoër-skool Hottentots-Holland in Somerset-Wes.

‘‘Die vrou wat my rok moes maak, het siek geword en ons moes vinnig ’n plan maak. Ek het toe ’n tweedehandse ontwerpersrok vir R120 gekry, maar ’n nommer 40! My ma het dit verstel en dit het glad nie sleg gelyk nie.’’

Die projek lê haar baie na aan die hart omdat sy glo dit sal vroue se selfbeeld ’n hupstoot gee. En haar bekende vriende was maar te gewillig om te help.

Amy Kleinhans-Curd het eerste ingespring, en dié gewese Mej. Suid-Afrika het sommer drie aandrokke
geskenk.

Lees meer oor die rokke wat jy kan wen in Huisgenoot van 14 Mei.