
Hulle woon nog in dieselfde miljoenêrshuis, hulle ry nog met dieselfde luukse motors, en hulle koop nog by dieselfde winkels. Joost van der Westhuizen is terug agter die mikrofoon as rugby-kommentator in Engeland vir die Britse Leeu-toer, en sy vrou, Amor, se nuwe CD is op pad. Maar die skindertonge sê dit gaan nie goed met hul geldsake nie.
Die voormalige Springbok-rugbykaptein se beursie raak glo ál leër . . .
Joost sê dis onsin dat die omstrede Joost-seksvideo wat in Februarie aan die lig gekom het, sy geldsake deurmekaar kom krap het. ‘‘Ek het niks verloor ná die videostories nie en ons sukkel nie finansieel nie. Dit gaan beter as ooit tevore,’’ sê hy baie beslis.
Maar dis nie die prentjie wat ingeligte kennisse skets nie. Hulle sê die Bok-legende sukkel eintlik al sedert verlede jaar finansieel, en die jongste knou is glo net die laaste strooi.
‘‘Joost was al verlede jaar diep in die moeilikheid,’’ sê ’n betroubare bron wat anoniem wil bly. ‘‘Hy het nie regtig beleggings nie, en al sy borge het hom gelos. Sy behuisingsmaatskappy het ook verlede jaar groot verliese gely.’’
Joost het ook onlangs kapsie gemaak teen ’n rekening van R100 000 van die Johannesburgse prokureur wat hom vlugtig verteenwoordig het oor die videoskandaal. Hy het gesê dis buitensporig, en hoewel regskenners nie noodwendig met hom saamstem nie, het Theresa van der Linde die rekening tot R80 000 verminder.
‘‘Ek is nou tevrede, die dokumente is onderteken en die geld moet nog net oorgeplaas word,’’ sê Joost.
Peet Viljoen, sy voormalige prokureur, sê wel Joost het hom nog nooit laat betaal nie.
Die oud-Bok ontvang steeds sy salaris van sowat R336 000 per jaar as kommentator by SuperSport. Sy kontrak is nie opgeskort nadat sy beweerde sekskapades en dwelmmisbruik aan die lig gekom het nie, maar sy dienste wel.
Clinton van der Berg, die kanaal se woordvoerder, sê dit is nog onseker of sy kontrak hernu sal word wanneer dit verstryk.
Lees meer oor Joost en Amor in Huisgenoot van 4 Junie.