Friday, 22 May 2009

Dis nou tyd om huis te koop!


Dis nou of nooit, reken jy. Jy droom al jare lank van ’n eie dak oor jou kop en vir ’n gunstiger kopersmark as wat ons nou het, kan jy immers nie vra nie, of hoe? Net jammer dat 60 persent van alle aansoeke om huislenings deesdae afgekeur word.

Jou bure was van die gelukkiges wat drie jaar gelede nog lag-lag ’n lening gekry het, maar die afgelope maande moes hulle toekyk hoe hul eiendom se waarde krimp terwyl die resessie-toestande vererger. As hulle verlede maand hul plek verkoop het, sou hulle stellig 10 persent minder as ’n jaar tevore gekry het. En terwyl jy kopkrap of jy nou ’n eie huis moet koop, wonder hulle of hulle hul huis moet probeer verkoop terwyl dit “nog iets werd is”.

Huiseienaars kan soos baie ander eiendomsbeleggers skaars glo dinge het so vinnig agteruitgegaan sedert 2004 en 2005, toe huispryse nog met meer as 30 persent per jaar gestyg het. Ken-ners en bankstatistiek bevestig hierdie staatmakerbelegging kon ondanks rentekoersverlagings nie die ekonomiese knyptang vryspring nie.

En ontleders meen ook nou dit kan langer duur as wat hulle verwag het voor die eiendomsmark weer nuwe lewe kry.

Die afswaai in die eiendomsmark volg op “geweldige hoë prysvlakke wat aangevuur is deur krediet wat vryelik beskikbaar was en ’n groot toename in die toekenning van huisverbande,” sê die bekende ekonomiese ontleder Dave Mohr, hoofbeleg-gingstrateeg van Citadel.

“Maar nou daal huispryse oor ’n breë front nadat die groot eiendomsmark-opbloei al in 2007 begin afplat het.”

In reële terme (die uitwerking van inflasie ingereken) wys bankgroepe se indekse dat pryse eintlik al sowat 12 maande lank daal, voeg hy by. Eerste Nasionale Bank (ENB) se jongste huisprysindeks wys byvoorbeeld pryse was in April gemiddeld 10,2 persent laer as ’n jaar tevore. In Maart was hulle al 7,9 persent laer – met inflasie ingereken trouens 15,2 persent laer – as in Maart 2008.

Dit beteken ENB se gemiddelde huisprysvlak (R674 885) het teruggesak tot die gemiddelde prys van Desember 2006 (R674 669). Banke se verbandboeke en berekeningsmetodes verskil, maar eiendomspryse het die afgelope maande deurgaans gedaal.

Lees meer oor die eiendomsmark in Huisgenoot van 28 Mei.