Friday, 22 May 2009

Bipolêr, die ewige kruis


Kleintyd het die onderwysers gedink hy is maar net ’n dromer, ’n eenkantkind wat sukkel om maats te maak, ’n onderpresteerder wat dagdroom pleks van oplet.

Maar as Simon Barnard (27), seun van die bekende filmmaker Katinka Heyns en die skrywer Chris Barnard, nou terugdink aan daardie jaar in st. 1, besef hy hy was eintlik toe al depressief.
Toe het hy gedink almal voel maar so beangs soos hy. Hy sou selfs maak of hy siek is, net sodat hy nie hoef skool toe te gaan nie.

Eers byna tien jaar later as student in grafiese ontwerp in Stellenbosch het Simon besef nie al sy vriende raak so depressief soos hy nie. Hy was agttien, naby sy seksuele kruin, maar het glad nie soos ander ouens in meisies belanggestel nie. En hy het gereeld in trane uitgebars, al kon hy nie verstaan waarom nie. Hy het tog in ’n gelukkige huis grootgeword.

“Ek het geweet mense hou nie van ’n negatiewe ou nie, maar ek kon nie eens ’n komedie kyk of een sin lees sonder dat my gedagtes op negatiewe paadjies afdwaal nie,” vertel Simon.

In sy vierde jaar het hy eindelik by ’n psigiater uitgekom, maar hy was al só diep in die donker van depressie vasgeval dat hy nie eens sinne kon formuleer om die dokter se vrae te beantwoord nie. Op 21 is depressie toe by Simon gediagnoseer en is hy daarvoor behandel. En baie gou was sy gemoed ligter. Hy was trouens in die wolke – skoon laf van geluk en propvol selfvertroue.

Waar hy voorheen te skaam was om net deur die kampus-kafeteria te stap, het hy nou sommer sonder klere deur Stel-lenbosch se strate gehardloop. Maar gou het ’n diepe depressie weer oor Simon toegesak. En toe besef ’n psigiater eindelik: Hy ly nie aan depressie nie, maar bipolêre versteuring.

“Ek het die laagste laagtepunt bereik waar ek nog was,” onthou hy. Met dié kruis wou hy nie saamleef nie. Hy wou nie eens meer uit die bed opstaan nie en het by sy ma by Hartbeespoortdam in Noordwes gaan woon. Selfmoord het nie meer vir hom net na ’n uitweg gelyk nie, maar na die regte en verantwoordelike ding om te doen.

Meer oor hierdie siektetoestand in Huisgenoot van 28 Mei.