Thursday, 14 May 2009

Vrou kry hele nuwe gesig


Sy sal nooit weer lyk soos voor die verskriklike dag toe haar man haar trompop met ’n haelgeweer geskiet en haar neus, wange, verhemelte en linkeroog weggeblaas het nie.

Maar Connie Culp (46) van Hopedale, Ohio in Amerika, het danksy ’n baanbrekersoperasie nou ’n gesig wat sy vir die wêreld kan wys. En dit is presies wat sy vyf maande ná die eerste gesigoorplanting ter wêreld by ’n mediakonferensie gedoen het.

Toe sy haar verskyning daar maak, het sy geskerts: ‘‘Wel, ek neem aan julle is vandag hier om my te sien. Al weet ek julle wil almal op my fokus, dink ek dis belangriker om op die skenker se gesin te fokus wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie Kersgeskenk te kry.’’

’n Span van agt dokters het in Desember die geskiedkundige 22 uur lange operasie uitgevoer. Hulle het 80 persent van ’n onbekende skenker se gesig – insluitend ’n neus, wange, onderste ooglede, boonste kaak, verhemelte en been – op Connie oorgeplant.

‘‘Sy gaan nie soos die skenker lyk nie, maar ook nie soos sy gelyk het voor die skietvoorval nie. Die oorplanting behels om komponente van die skenker met komponente van Connie se gesig saam te voeg,’’ het die plastiese chirurg dr. Risal Djohan verduidelik.

Danksy die operasie kan sy nou uit ’n koppie drink, vaste kos eet, glimlag, ruik en deur haar neus asemhaal – doodgewone dinge wat lank vir haar onmoontlik was. Maar ná vyf jaar waarin Connie die starende oë van nuuskieriges en wrede aanmerkings moes verduur, is sy duidelik nou die blyste daaroor om weer ’n neus te hê.

‘‘Ek kan nie genoeg oor hulle (die dokters) sê nie,’’ het sy gesê. ‘‘Ek het my neus gekry!’’

Haar gesig was onherkenbaar vermink nadat haar man, Thomas, haar vyf jaar gelede buite ’n kroeg in Hopedale geskiet het. Kort daarna het hy probeer selfmoord pleeg deur homself ook in die gesig te skiet, maar hy het oorleef en is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.

Connie het wonderbaarlik oorleef, al was dit sonder ’n neus. Sy moes deur ’n buis in haar lugpyp asemhaal.

Lees in Huisgenoot van 21 Mei oor die nuwe lewe wat Connie gegun is ná hierdie deurbraak.