Thursday, 14 May 2009

Bollywood se glans ál helderder


Soene sal jy nie sien nie. ’n Kleurryke skouspel van romanse, aksie, komedie, hope drama en af en toe selfs ’n klap of twee, dié kan jy wel verwag. Die dansende mooi mense praat Hindi en al maak hulle of hulle sing, gee g’n mens eintlik om nie. Want dis Bollywood, mense. Bol-ly-wood!

En met mense soos Shah Rukh Kahn wat nou in Suid-Afrika is vir die Indiese Premierliga, praat almal weer oor die Indiese fliekbedryf. Dink net, in Indië is hy so groot soos Brad Pitt en George Clooney saam, en ryk genoeg dat hy die mede-eienaar van ’n Indiese krieketklub is!

Die naam is eintlik ’n samevoeging van Hollywood en Bombaai, deesdae Moembaai, en gemeet aan die flieks is dit die grootste rol-prentbedryf ter wêreld, met sowat 1 000 flieks jaarliks teenoor Hollywood se 500, en 3 biljoen kykers teenoor 2,6 biljoen. Alles het in 1913 begin by Dadasaheb Phalke, die vader van Indiese bioskoop, wat daardie land se eerste stilprent gemaak het. Die titel was Raja Harish-chandra.

Teen die twintigs het die land se silwerdoekbedryf begin lewe kry, met 25 tot 30 nuwe flieks wat per jaar gemaak is en teen 1930 was dit al ’n hele 200. Die volgende jaar was die eerste Bollywood-fliek met klank daar, en in 1950 het kleur vir die eerste keer in Indië op die silwerdoek ontplof.

Bollywood se flieks kos gemiddeld “net” $5 miljoen (sowat R44 miljoen) per fliek teenoor Hollywood se $60 miljoen (sowat R528 miljoen) – dalk geen wonder die helfte word nooit uitgereik nie. En 95 persent van die res word selde lokettreffers.

Indië se grootste lokettreffer nog, Sholay van 1975, het minder as $54 miljoen (sowat R475 miljoen) verdien, ’n hartseer storie teenoor Hollywood se Gone with the Wind, wat al $1,3 biljoen (sowat R11 biljoen) ingeoes het. Tog groei die bedryf, en volgende jaar sal dit na verwagting $3,4 biljoen (sowat R29 biljoen) verdien. Dit is maar net soveel soos Walt Disney se jaarlikse inkomste, maar die mark in Indië kan, anders as in Amerika, nog geweldig groei, met 500 miljoen Indiërs wat jonger as 25 jaar is.

Die bedryf se geldsake is ook maar goed in omstredenheid gehul. Die banke gee net geld vir groot uitvoerflieks, en Moembaai-bendelede het al vir die maak van flieks betaal en nie geskroom om geweld in te span om hul sin te kry nie.

Lees in Huisgenoot van 21 Mei oor al die glans, maar al die taboes wat hierdie silwerdoeksterre in ag moet neem.