Friday, 29 May 2009

DIS VERBY MET DIE LOS LYF


Nooit weer sal Karin Eloff ’n ontkleeklub ondersteun nie. “Ek kan nie meer aandadig wees aan die simptoom van customers se onvermoë om aan hul verhoudings of huwelike te werk nie. Dis in hul hande. Sonder my.”

Só eindig haar outobiografie, Stiletto – My Lewe in die Seksbedryf, waarin sy vertel van haar lewe as ontkleedanser en redakteur van die pornotydskrif Loslyf tot by die dag toe sy besluit het om dit alles agter te laat – die dag toe haar kind gebore is.

Daar is amper geen teken oor van die dae toe sy haar naakte lyf gereeld in ontkleeklubs om ’n paal gevou het nie. Die hemelhoë hakke van destyds het plek gemaak vir stewels waarin ’n mens darem kan stap. En haar groen oë kyk nie meer vanuit ’n glasige drank-en-dwelm-newel na jou nie.

Al wat verklap dat sy jare gelede ’n wilde meisie was, is die nege tatoes op haar lyf en haar sleutelhouer waarop staan “Bad girl gone worse”.

Want Karin Eloff (35) leef deesdae ’n voorbeeldige, voorstedelike lewe. Sy raak nie meer aan kokaïen nie, sy drink net af en toe ’n glas rooiwyn, sy klim saans negeuur in die bed en sy sal nooit weer haar voete in ’n ontkleeklub sit nie.

Waar sy voorheen daagliks in haar sjoebroekie op die maat van polsende musiek vir kwylende mans skootdanse uitgevoer en later suggestiewe artikels oor seksposisies vir Loslyf geskryf het, soek sy deesdae ’n lewensmaat met wie sy kan trou. Sy werk as ’n senior joernalis by die weekblad Sondag.

Sy is so ordentlik en gewoon soos jou buurvrou. Haar outobiografie verskyn eersdaags, maar Karin sê die laken-kaskenades wat sy in dié boek beskryf, behoort tot die verre verlede. Haar lewe het soos handomkeer verander.

‘‘Ek het nie eens meer ’n behoefte daaraan om saans uit te gaan nie; ek bly eerder by die huis. Ek het myself uitgewoed. Daar’s niks meer wat ek daar buite soek nie. Alles wat ek wil hê, is binne en by my.’’

Meer oor hierdie gewese ontkleedanser in Huisgenoot van 4 Junie.