
Hulle is die mense wat soms nader aan ’n kunstenaar is as hul eie familie. Dié wat met ’n sneesdoekie moet reg staan om trane af te droog, oor die vingers moet tik wanneer daardie bekende voetjie skeef trap, en hul beeld weer moet poets ná ’n flater in die kollig.
En kyk jy so na die reeks blapse wat Jason Hartman (29) nou ná M-Net se stem-debakel gemaak het, sou jy dink die eerste item op sy voorkeurlysie is ’n bestuurder en ’n publisiteitspan wat hom nie so simpel laat klink nie.
Dit is die mense wat sy loopbaan nou kan maak of breek, die enigstes wat kan keer dat hy nie soos vorige Idols-wenners net verdwyn nie, sê Suid-Afrika se bekendste musiekbestuurders uit een mond. Hy moet nou sy woorde teenoor die media tel en liefs net doen wat hy goed doen: Sing.
Die Durbanse rocker is as mede-wenner van Idols aangewys vier dae nadat Sasha-Lee Davids gekroon is. Sowat 680 000 vertraagde stemme wat ná ’n forensiese oudit bygetel is, het hom as eintlike wenner uitgewys met 200 000 meer stemme as Sasha-Lee. Albei is toe tot wenners verklaar en het aanvanklik ’n verenigde front voorgehou.
Maar nou begin dit ál meer lyk asof Jason tog bitter is – en hy huiwer nie om dit te laat val nie. As dit hy was, sou hy die eerbare ding gedoen en liewer die titel afgestaan het, het hy aan die tydskrif heat gesê. Idols is vir hom net ’n trappie na bo – hy mik om oorsee te gaan sing, het hy vroeër teenoor ’n joernalis laat val.
Hy het M-Net in dieselfde onderhoud gekritiseer en gesê hul toerusting, klank en kameras is nie op standaard nie. En daarna is weer berig dat Jason daarop aandring dat sy familie-orkes ingesluit word in die platekontrak wat hy as Idols-wenner gekry het. Jason het dié berigte ontken.
Kenners verduidelik in Huisgenoot van 4 Junie hoekom bekendes hulp nodig het om hul loopbane op koers te hou.