Friday, 05 December 2008

Die swerfjare van Jacob Zuma


Hy is die bekendste karakter in die Suid-Afrikaanse politiek, dikwels in die moeilikheid, altyd omstrede – of jy nou van Jacob Zuma hou of nie, jy kan hom kwalik ignoreer. Maak ’n koerant oop of skakel jou TV aan en hy’s daar. Maar nou, in ’n nuwe ongemagtigde biografie, neem die joernalis Jeremy Gordin die leser verby die berigte om iets van die man self vas te vat. In hierdie uittreksel uit Zuma: A Biography kry ons ’n blik op sy kinderjare en op die tyd van swaarkry en persoonlike groei op Robbeneiland.

Net voor die ANC-konferensie waarop Zuma as die party se president verkies sou word, kuier ek by hom aan huis om saam met hom en twee van die vier amptelike mevv. Zuma nie tee nie, maar umqombothi te drink en nyama te eet.

Ons reis sowat twee en ’n half uur noord en binneland toe van Durban af na Zuma se plattelandse toevlugsoord in Nxamalala in die Nkandla-distrik. Van die mevv. Zuma ontmoet ons toe net Nompumelelo Ntuli Zuma, die joviale vierde vrou, maar ons bring wel ’n paar uur saam met Zuma deur.

Waar hy ’n wyle in ’n Madiba-hemp, donker langbroek en nuwe drafskoene op ’n stoel in die son ontspan, beduie hy met ’n wye gebaar om hom na die rondawels en die kraal wat sy blyplek in Nkandla is, die berge, die welige plantegroei en die Mome-kloof.

Dis in dié kloof dat ’n Engelse ekspedisieleër die Zoeloe-kryger Bhambatha en sy volgelinge in April 1906 doodgemaak het waar hulle in die Nkandla-woud geskuil het. Dit was die einde van die Bhambatha-rebellie, maar ook ‘‘die begin van die gewapende stryd teen apartheid’’, of so beskryf Zuma graag dié gebeurtenis.

Hy vertel hy het polities bewus geword toe sy ouers, grootouers en die oues van die stam hom kleintyd stories oor die Bhambatha-opstand vertel het.

‘‘Ek het die plek platgeloop, want dis wat die ou mense gesê het ek moet doen. Weet jy, ek het altyd gedoen wat ek gevra is om te doen.’’

Lees meer oor Jacob Zuma in dié uittreksel uit Zuma: A Biography in Huisgenoot van 11 Desember.