Friday, 12 December 2008

Tops in sy veld


Sy span het verloor, en dis alles die ref se skuld!

Suid-Afrika se top-fluitjieblaser, Jonathan Kaplan, moes hierdie beskuldiging al meer as een keer aanhoor. Maar hy weet hy is onpartydig op die rugbyveld – ongeag waar in die wêreld hy sy passie uitleef.

En die wêreld se rugbybase stem beslis met hom saam, want Jonathan is die nuwe wêreldrekordhouer vir die meeste toetse as skeidsregter tot nog toe, met 48 agter sy naam.

‘‘Ek kan hardegat wees as ek wil,’’ erken hy, ‘‘maar elke beslissing is in belang van die spel. My grootste bate is my geloof in myself en die gemoedsrus dat die mense wat die meeste saak maak, vertroue in my het.’’

Hy het al ’n allemintige 863 wedstryde behartig, waaronder 298 eersteklas-kragmetings.

‘‘Dit is ’n groot voorreg om ’n bestaan te maak uit iets waarvoor ek lief is,’’ sê hy onlangs uit Londen kort voor hy op 22 November met toets nommer 48 – tussen Wallis en Nieu-Seeland op Cardiff – sommer sy eie nuwe wêreldrekord sou verbeter.

Hy het die wêreldrekord ’n maand gelede agter sy naam geskryf toe hy die Nieu-Seelandse skeidsregter Paul Honiss verbygesteek het. Jonathan moes op die nippertjie instaan as skeidsregter in Marseille se Stade Vélodrome in die toets tussen Frankryk en Argentinië nadat Steve Walsh beseer is.

‘‘Dis ’n mylpaal; ’n statistiek vir die hede, maar ek is trots daarop. Veral dat dit ’n Suid-Afrikaner is wat die rekord behaal het,’’ sê die 42-jarige met die kenmerkende wit streep in sy hare.

‘‘Die wit kol het net ewe skielik in my dertigerjare opgeduik,’’ sê hy daaroor. ‘‘Wanneer mense my op straat raakloop, sal hulle weer kyk om seker te maak dis ek.’’ Hy dink ’n bietjie na. ‘‘Dalk het die haarwortels daar doodgegaan van al die klappe wat ek al teen die kop gekry het!’’ skerts hy.

Lees meer oor Jonathan Kaplan en sy prestasies in Huisgenoot van 18 Desember.